Local newsNewsNews

Dwelm-ma en kêrel gevonnis vir kindermishandeling

Sy het die kinders sonder kos of toesig in 'n woonstel gelos sodat sy dwelms kon gaan koop. Hy het twee van die kinders aangerand nadat hulle gekla het dat hulle honger is.

VANDERBIJLPARK. – ‘n Jong ma van Vanderbijlpark wat haar kinders, onderskeidelik 2, 4 en 5, vir ‘n lang tydperk sonder kos of toesig in ‘n woonstel gelos het sodat sy dwelms kon gaan koop, is Maandag (5 September 2022) in die streekhof in Vanderbijlpark gevonnis op klagtes van kindermishandeling.

Die vrou (22) en haar kêrel  (34) is albei vyf jaar tronkstraf opgelê vir die wyse waarop hulle die vrou se kinders in September 2021 mishandel het.

Die vrou het in ‘n verklaring erken dat sy haar kinders sonder kos en toesig in die woonstel gelos het en nagelaat het om haar jongste kind se doek om te ruil, wat tot gevolg gehad het dat van haar kinders sonder toesig die strate ingevaar het om vir hulp te soek.

Die man is boonop ‘n bykomende 12 maande tronkstraf opgelê omdat hy sy hand vir die vrou se kinders gelig het. Die vonnis sal samelopend met die vyf jaar tronkstraf uitgedien word.

Die man het in ‘n verklaring erken dat hy die vrou se 2-jarige seun met die plat hand op sy boude geslaan het en haar 4-jarige seun met die plat hand geslaan en hom aan sy oor en aan sy arm getrek het.

Dit volg glo nadat die kinders gekla het dat hulle honger is.

Landdros P.M. Ngido het ook gelas dat die man vir woede-bestuur klasse moet gaan.

Die Vanderbijlpark-streekhof het Vaalweekblad toestemming gegee om oor die hofverrigtinge te skryf maar gelas dat die minderjarige kinders se name nie genoem mag word nie en dat geen foto’s van die beskuldigdes voor, tydens of na hofverrigtinge geneem word nie.

Landdros P.M. Ngido het tydens vonnisoplegging gesê daar moes gekyk word na die omstandighede waaronder die misdaad gepleeg, sowel as die ernstigheid van die oortreding.

Die hof moes ook die belang van die gemeenskap en die slagoffers teenoor dié van die beskuldigdes opweeg.

Ngido was van mening dat ‘n opgeskorte vonnis nie voldoende is nie en dat korrektiewe toesig ook nie toepaslik is onder die omstandighede nie.

Die vrou het Maandag in trane uitgebars toe sy gevonnis is.

Die kinders is tans in die toesig van hul ouma.

Die ouma was ook in trane en was nie gereed om met Vaalweekblad te praat nie.

‘n 22-Jarige vrou (22) en haar kêrel, (34), is Maandag (5 September) in die streekhof in Vanderbijlpark gevonnis. Foto: Christiaan Cloete

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Christiaan Cloete

Christiaan is editor of Ster North and a reporter for Vaalweekblad. Email: christiaan@mooivaal.co.za
Check Also
Close
Back to top button