Midvaal: ‘Elektrisiëns het vir drie dae, deur die nag, in bitter koue gewerk om ons gemaklik te hou’
Midvaal Hoofsweep Rapport 61

Deur Phil C. Pretorius, DA-Hoofsweep: Midvaal Plaaslike Munisipaliteit
Nadat ‘n Emfuleni-transformator op Donderdag, 18 Augustus 2022 om 08:00 aan die brand geslaan het en na die Midvaal-substasie langsaan versprei het, was die Midvaal-brandweer binne vyf minute op die toneel en het hulle die brand onder beheer gebring.
In hierdie proses het hulle die substasie van algehele vernietiging gered. Die skade aan die Midvaal-transformator was reeds aansienlik en ‘n massiewe nuwe transformator moes in rekordtyd as “abnormale vrag” ingekarwy word. Dit is nie een van die klein transformators waaraan ons gewoond is en langs die pad op die houtpale sien nie. Hierdie is ‘n formidabele 20 MVA transformator wat 40 ton weeg! Fred’s Crane Hire het onder baie moeilike en uiters gevaarlike omstandighede die gebrande transformator met die nuwe een vervang.
In die herstelproses kan die munisipaliteit, wat die burgemeester, LBK en wyksraadslid insluit, net die inligting rapporteer wat deur die elektrisiëns aan hulle gegee word. Daar is egter soveel veranderlikes en probleme wat kan opduik dat dit bitter moeilik is om akkurate inligting te voorspel. Gee hulle die verkeerde inligting, of dit verander, of addisionele probleme word ondervind wat die proses vertraag, is die gort in die gemeenskap gaar. Gee hulle geen inligting nie, is die gort in die gemeenskap ook gaar. Wat ek wel weet is dat die werk wat hulle doen wonderbaarlik is en dit dikwels onder moeilike, koue en hoë-druk omstandighede plaasvind.
So, wanneer dit ‘n bietjie langer neem as wat ons gedink het of voorspel is, kom ons wys dat ons steeds waardeer wat die Midvaal elektriese span doen. Die burgemeester Peter Teixeira, LBK vir Ingenieurswese, raadslid Reginald Hubbard en wyksraadslid Salome Janse van Rensburg was amper 24/7 op die toneel en het vir drie dae skaars ‘n oog toegemaak. Om fone te laai en opvangs te kry is ‘n groot uitdaging vir die wyksraadslid wat honderde oproepe, WhatsApps en Facebook-plasings met vrae, versoeke en verbale aanvalle ontvang.
Die burgemeester bly ook in Risiville en het ook geen krag gehad nie. Hy het ook drie kinders en moes ook ander reëlings tref vir kos en hitte en ‘n bad, maar tog het hy oproepe geneem, opdaterings op sosiale media geplaas en persoonlik met inwoners gepraat wat op die terrein kom ondersteun en kla het. Dit is leierskap!
Die elektrisiëns het vir drie dae, deur die nag, in bitter koue (-3°C) gewerk om ons gemaklik te hou. Ons uiterste dank gaan aan hierdie spanne vir hul onbaatsugtige opoffering.
Dankie ook aan die inwoners wat ondersteuning gebied het en wat kom inloer het en koffie en pannekoek gebring het om ons span en personeel te ondersteun. Dit is wat Midvaal die beste munisipaliteit in die land maak.
Trotse Midvaal groete, Phil.
Web: www.midvaal.gov.za
Facebook: Midvaal Local Municipality en Midvaal News Network
Tel: 0861 643 8225
MyMidvaal App

**********************************************************************************************

