Local newsNewsNews

Okkie Jooste – sy vriende noem hom Sweepslaner

Ontmoet Okkie Jooste. Sy hart klop warm vir Afrikaans en vir geskiedenis. Die dat hy altyd aan die organiseer is om erfenisskatte te bewaar of monumente skoon te maak.

VEREENIGING – Sy warm glimlag val mens eerste op, dan sy reguit blik en die warm eerlikheid wat daaruit straal. Okkie Jooste is bekend in kultuurkringe as die een wat altyd eerste daar is om projekte te organiseer en kultuurskatte te red.

Okkie saam met die sanger en akteur, Bok van Blerk.

Hy is onder andere betrokke by die Suid-Afrikaanse Weermag Vereniging se Kiewiet eenheid, die FAK se Vaal Kultuur Netwerk en die Helplift Netwerk.

“Ek doen niks alleen nie, ons is ‘n span vrywilligers wat saamwerk en wat ek doen, doen ek met die Here se genade,” beduie hy ernstig.

Okkie is nou 10 jaar in die Vaaldriehoek. Hy kom oorspronklik van die Kaap af, maar was ook drie jaar in Welkom op skool.

Op sy dag het hy al in Brackenfell en Hermanus gebly. Hy lag lekker. “Almal vra my altyd hoekom het ek die mooie Kaap verruil vir Vereeniging, dan sê ek ek het hierheen getrek om tot bekering te kom.”

Vir hom is die Vaaldriehoek se mense besonders. “Die mense hier gee om vir mekaar en help mekaar,” verduidelik hy.

Hy het so ‘n paar jaar gelede eintlik per ongeluk by die Vaal se kultuurnetwerke betrokke geraak. In 2020 het Okkie tydens die grendelstaat begin om kospakkies uit te deel.

“Dit was ongelooflik hoe vriende net gebel het en gehelp het om kos te skenk. Ek kon vir ‘n maand lank verskeie gesinne van kos voorsien.”

Dit was juis in die tyd wat die kinders sy hart aangegryp het. “Ek het besef kinders ken nie meer ons geskiedenis nie. As ons dit nie vir hulle vertel nie, wie gaan? Ons moet ook ons erfenis in die area bewaar.”

Sy leuse is: “Jy kan kla of jy kan deel wees van ‘n tipe verandering.” Ek het oral aangesluit en deel geword van die proses om die Vredesmonument in Vereeniging skoon te hou, asook werk by die Vaal Teknorama Museum te doen.”

Okkie was ook deel van die span wat destyds gehelp het om die Voortrekkermonument in Vereeniging skoon te maak en te skuif.

Marius van Zyl, Mark Walkden, Frans Harding en Okkie Jooste Foto’s: Verskaf

Hy is lief vir geskiedenis en is altyd besig om aan ‘n volgende projek te beplan of te organiseer. So word daar weer skoonmaakwerk gedoen by die Vaal Teknorama Museum op 17 September.

“Ons werk ook aan ‘n plan om die Heldeakker in Vanderbijlpark skoon te maak en op te knap.”

Sy vriende noem hom Sweepslaner omdat hy die een is wat altyd almal aan die gang kry en organiseer.

“Ons is so ‘n groep van ses wat altyd saamwerk. Elkeen weet presies wat om te doen. By die FAK staan ons bekend as die Gideonsbende,” vertel hy met ‘n glimlag.

Die Gideonsbende bestaande uit Okkie, Gys en Kobie Ströh, Mark Walkden, Frans Harding en Marius van Zyl is juis in Oktober verlede jaar deur die FAK vereer met ‘n toekenning vir hul beskerming en behoud van die Afrikanererfenis.

Wanneer hy nie besig is om kultuurskatte te bewaar nie, reis hy graag en was al op ‘n toer na Engeland waar hy van Dover tot in Cornwall die land se erfenisareas besoek het.

Dan is hy ook besig om al die Joostes en hul nasate op te spoor vir ‘n groot familiesaamtrek wat volgende jaar gehou gaan word.

Okkie glo daaraan om te help waar hy kan, wanneer hy kan en soos hy kan. Sy groot droom is om meer kultuurnetwerke in elke dorp tot stand te bring, sodat vrywilligers kan saamstaan om die Afrikaner se erfenis te bewaar, van die monumente en heldeakkers tot by die konsentrasiekampbegraafplase.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Gerda Bruinette

Gerda Bruinette, senior journalist and columnist at Vaalweekblad, writes with compassion and a keen sense of human nature. Always striving to find positive and feel-good stories. Email: gerda@mooivaal.co.za
Check Also
Close
Back to top button