Midvaal verwelkom twee splinternuwe brandweerwaens
Die Midvaal Plaaslike Munisipaliteit het twee splinternuwe reaksievoertuie vir die Midvaal-brandweer teen 'n koste van R2.3 miljoen elk bekom.
MIDVAAL. – Volgens ‘n verklaring wat Dinsdag (7 September 2022) deur die munisipaliteit uitgereik is, is die twee voertuie volledig toegerus met masjinerie soos lewenskake, monitors en brandblus-toebehore.
Die munisipaliteit het ook ‘n splinternuwe dieselwa aangekoop wat deur die Vaal Marina-brandweerstasie gebruik sal word om die stasie se brandweerwaens te vul.
“Die dieselwa sal ons brandbestryders in staat stel om die brandweerwaens by die stasie maklik met brandstof te vul, in plaas daarvan om gereeld na vulstasies te reis.
“Dit sal lei tot ‘n aansienlike vermindering in die munisipaliteit se uitgawes,” lui ‘n uittreksel uit die verklaring.
“Hierdie nuwe voertuie sal ‘n deurslaggewende rol speel in die munisipaliteit se vermoë om bystand te verleen tydens brandnoodgevalle.
“Dit sal ons in staat stel om vinnige en doeltreffende reddingsdienste te bied en om beserings, verlies van eiendom en moontlike dood as gevolg van brande te vermy.
“Dit is deel van Midvaal Plaaslike Munisipaliteit se pogings om innoverend in die groeiende behoeftes van ons gemeenskap te voorsien deur kwaliteit dienste te lewer en gemeenskapsveiligheid te verbeter,” lui ‘n uittreksel uit die verklaring.


