Local newsNewsNews

Psoriase – mense ly, mediese fondse sê dis kosmeties

Maak kennis met Lydia Felton ‘n psoriase lyer wat mediese fondse aanvat omdat hulle weier om vir die behandeling daarvan te betaal.

VANDERBIJLPARK. – Lydia Felton glimlag maklik en lag lekker. Agter die glimlag lê egter jare se fisiese en emosionele pyn verskuil.

Lydia ly aan psoriase. ‘n Pynlike velkondisie wat haar hele lyf met ‘n rooi, opgehewe uitslag gelaat het.

Dit het alles met ‘n sny aan haar kop begin wat nie wou genees nie. Na vele doktersbesoeke is sy na ‘n dermatoloog verwys.

Psoriase is ‘n velkondisie wat ‘n pynlike veluitslag veroorsaak wat ook organe aantas.

Hy het die psoriase gediagnoseer. “Hy het vir my gesê dis ‘n doodsvonnis en dat mense met psoriase nie oud word nie,” onthou sy. Dit was 18 jaar gelede.

Die dokter het nie met Lydia se wilskrag rekening gehou nie. Sy het die siekte met ‘n verskeidenheid van salwe, rome, kortisoon en chemoterapie aangevat.

Die psoriase het egter erger geword. “Die siekte tas nie net jou vel aan nie, maar ook jou organe en veroorsaak pynlike psoriatiese artritis. Hoe meer jy stres, hoe erger word dit.”

Nadat die gesin Vanderbijlpark toe verhuis het, het sy by dr. Van der Walt uitgekom. Hy het haar vertel van ‘n spuit wat psoriase in remissie sit.

Lydia se hele lyf was oortrek met die uitslag vir baie jare.

Dit kos R85 000 per spuit en die mediese fondse betaal nie daarvoor nie. Na dr. Van der Walt se afsterwe het sy dr. Pillay in Johannesburg ontmoet.

Hy het help baklei dat haar mediese fonds vir die spuite betaal uit haar hospitaalvoordele. Sy het in Februarie die eerste spuit gekry, en sê sy voel of sy weer ‘n lewe het.

“Dit is ‘n brutale siekte. Ek kon die afgelope vier jaar nie eers meer ‘n vuis maak weens die artritis nie. Die uitslag jeuk baie en my hare het in kolle uitgeval.”

Naas die fisiese aftakeling, is daar ook die psigiese impak. “Mense staar jou aan in winkels. Ma’s sê vir kinders om weg te staan want hulle gaan aansteek. Vele haarkappers het geweier om my hare te doen. Dit maak seer. ‘n Mens raak depressief. Gelukkig is my suster naby en sy weet wanneer ek in ‘n gat is,” vertel Lydia.

Vandat sy die spuite kry (een elke agt weke) kan sy weer met gemak loop, die uitslag is weg, haar cholesterol en suikervlakke is normaal en haar hare is mooi. “Ek kan motor bestuur sonder pyn!”

Juis omdat psoriase so ‘n alleen siekte is, wil sy uitreik na ander in die Vaaldriehoek wat ook daarmee sukkel. “Ek wil ‘n ondersteuningsgroep begin. Ons moet mekaar bystaan. Ander lyers kan my gerus by 074 650 7926 kontak.”

Lydia is betrokke by bewusmakingsveldtogte oor psoriase en saam met Jansen, ‘n afdeling van Johnson & Johnson, probeer hul die dokters en mediese fondse oortuig om die spuit vir pasiënte beskikbaar te stel.

Sy het juis deur die bewusmakingsveldtog vriende gemaak met nog ‘n lyer, Natashua de Villiers van Springs.

“Ongelukkig het alles te veel vir Natashua geword nadat haar mediese fonds nie ‘n noodsaaklike rugoperasie wou betaal nie en ook nie die spuit nie. Sy het selfmoord gepleeg,” vertel Lydia hartseer.

“Dis tyd dat die wêreld bewus gemaak word van psoriase en die fisiese en emosionele impak wat die siekte op mense het. Hierdie is nie ‘n aansteeklike siekte nie. Dis nie ‘n doodsvonnis nie. Dit kan genees word, die mediese fondse moet net inspring en help.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Gerda Bruinette

Gerda Bruinette, senior journalist and columnist at Vaalweekblad, writes with compassion and a keen sense of human nature. Always striving to find positive and feel-good stories. Email: gerda@mooivaal.co.za
Back to top button