Local newsNewsNews

Ek sê maar net…

RUBRIEK - Ek wonder oor Springbokrugby, Eben Etzebeth se kwaai oë, Nic White se snor, die lente, hooikoors en somertuine. Sommer so lekker mengelmoeskardoes.

RUBRIEK. – Daar wen die Springbokke die Wallabies. Was lekker om te sien. Ons het selfs die geveg gewen.

Nou nie dat ek ‘n bakleiery tydens ‘n wedstryd goedkeur nie, maar mens weet ook nie wat alles daar in ‘n losgemaal gesê of gedoen word om die manne te laat uithak nie.

Hoekom enige iemand dink hulle kan die grote Eben Etzebeth aanvat, weet nugter alleen. Onse Eben se oë het behoorlik geblits. Was ook nie vyf minute later nie, toe gons sosiale media met die grappies oor wat presies tussen die twee gesê sou gewees het.

Amper soos laasweek toe Faf de Klerk per abuis die Wallaby skrumskakel se snor gevee het en dié ‘n minuut later dramaties neergeslaan het. Daardie klas van melodrama hoort nie in rugby nie.

Die einste skrumskakel was die naweek daarop uit om al wat Springbok is te tart. Wonder of hy weet wat van hom sal oorbly as Ysterman Malcolm Marx sy snor so ‘n slag moet vee?

Nader aan’t huis het die lente besluit om ‘n vinnige buiging op 1 September te maak en toe summier die wyk geneem.

Somer het sonder vooraf taal of tyding ingestap en die temperature kuier elke dag by die 28 grade Celsius.

Lekker die langer dae, maar ai, die stof en al die stuifmeel in die lug. Swaar op die hooikoors- en sinuslyers.

In Vanderbijlpark het die meeste mense ‘n snuif, hoes of proes aan die gang. Uitvee en afstof help amper nie, die stof kom oral in.

Ek sê in die week dit voel asof ek ‘n paar lepels stof geëet het. Sal help as dit net eers ordentlik gereën het. Al die stof bietjie afgewas is.

Die “oumense” sou gesê het dis nog te vroeg vir reën. “Dit reën eers op Oom Paul se verjaardag.”

Oom Paul Kruger tydens sy inhuldiging as staatspresident van die Zuid-Afrikaansche Republiek in 1898. Foto: Potchefstroom Herald

Die oom Paul waarvan hier gepraat word, is Paul Kruger, eertydse president van die Zuid-Afrikaansche Republiek in die dae voor en tydens die Anglo-Boereoorlog. Hy is op 10 Oktober 1825 gebore en dit was vir jare ‘n publieke vakansiedag in Suid-Afrika.

Nie net het sy verjaardag die begin van die reënseisoen aangedui nie, maar na die eerste reëns mag die kinders ook weer die swembaddens en riviere ingevaar het. (Ja, daar was tye wat daar in die Vaalrivier geswem is, sonder om siek te word!)

Nou word Oom Paul se verjaardag nie meer herdenk nie, so ek weet nie wanneer is die reënseisoen veronderstel om te begin nie.

Ek hoop dis gou, want die sinus maak my klaar. Intussen hou ek die antihistamien byderhand en waardeer wel die blomme in ma se tuin.

My senuwees kan ook nou bietjie herstel, want die volgende rugbytoets is eers 17 September. Teen Argentinië. ‘n Gevaarlike en onvoorspelbare span, nie net wat hul rugby betref nie, maar ook as daar ‘n geveg uitbreek.

Die Pumas moet nou net nie met Eben of Marx loop sukkel nie. Hoeka is een van die min kere wat Eben al op die veld gebloei het, die dag toe hy en die einste Marx per ongeluk koppe gestamp het in ‘n Springbokwedstryd in Oktober 2021.

Tyd sal leer of ons na die wedstryd op 17 September, Don’t cry for me Argentina of We are the champions gaan sing.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Gerda Bruinette

Gerda Bruinette, senior journalist and columnist at Vaalweekblad, writes with compassion and a keen sense of human nature. Always striving to find positive and feel-good stories. Email: gerda@mooivaal.co.za
Check Also
Close
Back to top button