Na swaar dae in V’ging word polisieman toe ‘n generaal!
JP Gous se toewyding en lojale diens tydens sy werksjare in Vereeniging het vrugte gedra en hy is mettertyd as wetsinstrukteur by die Polisiekollege in Pretoria aangestel en op 1 Oktober 1968 tot kommissaris bevorder.
Vereeniging is vanjaar 130 jaar oud. Om dit te herdenk, kyk Vaalweekblad vanjaar terug na groot nuusgebeure deur die jare, en die inwoners wat die stad help opbou het. Wyle Polisie-Kommissaris JP Gous was een van hulle…
Vandag se polisielede het dit nie maklik nie, maar dis niks gemeet aan die beproewing wat ons wetstoepassers in Vereeniging se vroeë jare deurgegaan het nie!
Een van die stad se polisiemanne uit die 1930’s wat jare later Suid-Afrika se kommissaris van Polisie geword het, wyle genl. JP Gous, het in 1970, toe hy die nuwe Polisiehoofkwartier in Vereeniging kom open het, aan Vaalweekblad vertel van die harde tyd wat hy en sy kollegas as jong polisielede hier beleef het.
Hy het op 18 Februarie 1932 by die Polisie aangesluit en is in Vereeniging gestasioneer. Destyds is daar van ‘n gewone berede konstabel in Vereeniging verwag om tot 500 outydse myl te perd tydens plaaspatrollies af te lê. Boonop moes ‘n polisieman ook snags in die rondawel langs die aanklagkantoor in Vereeniging beskikbaar wees om enige motorongeluk of ander voorval wat in die distrik gebeur het, per trapfiets te gaan ondersoek. Die polisieman wat aan diens was, moes soms tot drie motorongelukke in ‘n nag gaan ondersoek – selfs so ver as Jacksonsdrift anderkant Eikenhof, sowat 50 km vanaf Vereeniging.
“Die polisierondawel waarin ek in die 1930’s geslaap het, het ‘n sementdak en –vloer gehad. Ek moes tien sjielings per maand aan huurgeld betaal, en deur die skeure in die dak kon ek snags die sterre lê en dophou,” het hy aan Vaalweekblad vertel.
Vereeniging se totale polisiemag het destyds bestaan uit een wit sersant, ‘n speurderkonstabel en nog agt wit en agt swart lede, vyf perde, ‘n aantal fietse en een motorfiets.
Dit was darem nie net werk en geen plesier nie. Daar was ook tyd om die streek se nooiens te ontmoet – en ‘n polisieman in uniform is mos nog van altyd af ‘n magneet vir die meisies. Een besonderse nooi wie se pa op die plaas Hartbeesfontein digby die huidige Vaaldam geboer het, het sy hart gesteel en hulle is uiteindelik getroud.
JP Gous se toewyding en lojale diens tydens sy werksjare in Vereeniging het vrugte gedra en hy is mettertyd as wetsinstrukteur by die Polisiekollege in Pretoria aangestel en op 1 Oktober 1968 tot kommissaris bevorder.
Na Republiekwording in 1961 was dit sy taak om ‘n nuwe leuse vir die destydse Suid-Afrikaanse Polisiemag te skep. Na heelwat dinkwerk het hy besluit op ‘n bondige samevatting van ‘n polisielid se werk: “Ons dien en ons beskerm / We serve and we protect”. Dié leuse was egter te lank vir die klein metaal-polisiewapens en embleme en is toe vertaal na Latyns: “Servamus et Servimus”. ‘n Leuse wat ware, toegewyde polisiemanne en -vroue nog tot vandag toe uitleef.

*************************************************************************************************
