14 nuwe vlootvoertuie vir Midvaal Plaaslike Munisipaliteit
Die Midvaal Plaaslike Munisipaliteit het Woensdag (14 September 2022) 14 splinternuwe vlootvoertuie bekend gestel.
MIDVAAL. – Volgens ‘n verklaring wat Woensdag deur die kantoor van die uitvoerende burgemeester, Peter Teixeira, uitgereik is sal die voertuie aangewend word om dienslewering in die munisipaliteit te verbeter.
“Dit is deel van Midvaal se strategie om sy vlootversameling te vernuwe sodat ons beter op diensleweringsuitdagings kan reageer. Die 14 voertuie sal strategies aan departemente soos Openbare Veiligheid en Paaie, Gemeenskapsdienste en Ingenieursdienste toegeken word,” lui ‘n uittreksel uit die verklaring.
Volgens Midvaal sal die voertuie gebruik word vir die verwyder van vullis, brandbestryding en nooddienste, sowel as die verskerping van padveiligheid op paaie.

‘n Nuwe voertuig wat aan Midvaal se Departement van Maatskaplike Dienste toegeken is, sal gebruik word vir vinniger assessering van behoeftiges, die monitering van VKO-sentrums, tuisbesoeke en begrafnisassessering.
Die munisipaliteit oorweeg dit om ‘n bykomende 36 voertuie oor die volgende drie jaar aan te skaf, sodat daar vinniger op diensleweringsuitdagings gereageer kan word.
Dit sal ook help om bedryfskostes te beperk.
Die Midvaal Plaaslike Munisipaliteit sê in die verklaring hy is verbind tot goeie bestuur, innoverende verhoging van produktiwiteit, en die verskaffing van uitstekende dienslewering.

