Local newsNewsNews

Bejaardesorgfonds besoek Tannie Chrissie op haar 100ste verjaardag

‘n Bekende inwoner van Risiville het onlangs ‘n volle 100 jaar oud geword.

VEREENIGING. – Christina Glodina Susanna van Aswegen, ook bekend as “Tannie Chrissie”, het op 24 Augustus haar 100ste verjaardag gevier.

Tannie Chrissie was getroud met Assie van Aswegen, ‘n oud-polisieman wat in die jaar 2000 op 81-jarige ouderdom oorlede is.

Oom Assie was ‘n streng, maar liefdevolle man. Om Tannie Chrissie se dag spesiaal te maak, het die polisie se Bejaardesorgfonds haar Vrydag, 26 Augustus besoek.

Die Bejaardesorgfonds is ‘n geregistreerde nie-winsgewende organisasie wat in 1983 deur lede van die polisiediens gestig is en sorg aan afgetrede polisielede en hul families bied.

Dienste wat deur die Bejaardesorgfonds gebied word sluit in terapeutiese ondersteuning aan oud-polisielede deur sosiale werkers, besoeke deur maatskaplike werkers, verjaardag besoeke en geskenke aan lede ouer as 75, ondersteuningsgroepe, gesondheidstoetsing, noodverligting en hulp met pensioen en mediese fonds aansoeke in.

Die polisie se Bejaardesorgfonds het Tannie Chrissie op haar verjaarsdag besoek. Foto: Verskaf

Teenwoordig tydens die besoek was Tannie Chrissie se oudste dogter, Marie Tolmay, polisiebeamptes, kapt. Alwyn Wilken, Jorina Penny, ‘n maatskaplike werker verbonde aan die Bejaardesorgfonds en bestuurder van die maatskaplike werksgroep en Nadia Sass, ‘n maatskaplike hulpwerker by die Bejaardesorgfonds.

Tannie Chrissie doen tans baie goed en kan op 100-jarige ouderdom nog baie dinge vir haarself doen.
Sy het drie kinders: Hennie, Marie en Ansa.

Volgens Sass het Tannie Chrissie tydens die besoek vir almal teenwoordig stories vertel van haar verlede, toe sy in 1945 met Oom Assie getroud is en waar hulle oral gewoon het.

Tannie Chrissie en Oom Assie het in ‘n stadium in Alexanderbaai gewoon waar Oom Assie by die Suid-Afrikaanse Polisiediens begin werk het.

Hulle het hulle later in Vereeniging gevestig toe Oom Assie permanent daar aangestel is.

Tannie Chrissie sê sy is baie dankbaar vir die polisiemag.

Oom Assie het glo altyd vir haar gesê dat hy deel is van die polisie omdat hy dit so verkies het en nie om geld te maak nie.

Vir Oom Assie was die polisie ‘n familie.

Tannie Chrissie met haar dogter, op haar verjaarsdag. Foto: Verskaf
Tannie Chrissie met ‘n teddiebeer wat sy by die polisie se Bejaardesorgfonds gekry het. Foto: Verskaf

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Christiaan Cloete

Christiaan is editor of Ster North and a reporter for Vaalweekblad. Email: christiaan@mooivaal.co.za
Back to top button