Staatshospitaal vergeet operasie – fondse word benodig
Ontmoet Sebastiaan Kock (21), wat dringend 'n operasie moet ondergaan, en die mense wat hand uitgesteek het om hom te help.
VANDERBIJLPARK. – Sebastiaan Kock (21) is ‘n aktiewe jongman met ‘n sagte hart. Hy rig verskeie hokkiespanne af, onder andere by die Hoërskool Transvalia en die Laerskool D.F Malherbe. Hy is self ‘n kranige hokkiespeler wat tans vir die NWU uitdraf.
Einde Oktober 2021 is hy as die NWU Vaal se hokkiespeler van die jaar aangewys. ‘n Week later, 5 November, was hy en ‘n vriend die aand in ‘n motorongeluk betrokke.
Die ongeluk
‘n Motor sonder ligte het voor hul gery. Dit het gereën en die straatligte was buite werking. Sy vriend wou die ander motor verbysteek, maar net toe hul na die regterbaan oorgaan, het die motor ook sonder waarskuwing na regs beweeg.

In ‘n poging om nie in die motor vas te ry nie, het hulle bo-oor die randsteen gery en teen ‘n boom tot stilstand gekom. Beide insittendes het ernstige beserings opgedoen.
Die ander motor het weggejaag. Sebastiaan se vriend is na ‘n privaat hospitaal geneem, maar weens omstandighede buite hul beheer het die Kocks nie meer ‘n mediese fonds nie.
Lang pad na herstel
Sebastiaan is na ‘n staatshospitaal vervoer waar verskeie noodoperasies op hom uitgevoer is. Die veiligheidsgordel het interne beserings veroorsaak en daar moes onder andere ‘n stuk van sy dikderm verwyder word. Dit het hom met ‘n kolostomie-sakkie gelaat.

Hy het ook sy gewrig op drie plekke gebreek en sy sleutelbeen wat tydens die ongeluk gekraak is, het heeltemal gebreek toe hy sonder hulp in die hospitaal moes opstaan en geval het.
Nadat hy weke vir die operasies aan sy gewrig en skouer moes wag, is dit uiteindelik gedoen en kon hy ontslaan word. Sebastiaan het dadelik met sy studies voortgegaan. Hy studeer tans B.Com Rekeningkunde aan die NWU se Vaal-kampus.
Alhoewel die kolostomie-sakkie hom al verskeie kere in die verleentheid gehad het, laat hy hom nie daardeur afskrik nie. Hokkie is nou eenmaal sy passie en hy het vanjaar steeds afgerig en self gespeel.
Die operasie wat nie plaasgevind het nie
In April vanjaar is daar bepaal dat die kolostomie omgekeer sal kan word. Die operasie sou 16 Augustus plaasvind.
By hul aankoms moes hul hoor dat die hospitaal vergeet het om die teater te bespreek. ‘n Dokter by die hospitaal het beweer dat dit ‘n eenvoudige operasie sal wees.
Intussen het sy ma se pad met Nicoleen Harmse s’n gekruis. Nicoleen het in 2018 ‘n nie-winsgewende organisasie, Ubee4me, gestig om mense in nood by te staan.
Sy het besluit om Sebastiaan te help om privaat mediese behandeling te kry. ‘n Spesialis het die gesin meegedeel dat die operasie kompleks sal wees en dat Sebastiaan tot vyf dae in die intensiewe sorgeenheid sal moet deurbring.
Fondsinsameling vir operasie by privaat hospitaal
Daar is derhalwe verskeie projekte geloods om geld in te samel. Daar word verwag dat hulle ten minste R250 000 gaan benodig om al die kostes te dek.
Nicoleen sê hulle beplan onder meer ‘n hokkiedag, rolbaldag, gholfdag en ‘n beste tuin-kompetisie.
Die eerste van hul projekte het reeds afgeskop. Lootjies vir ‘n kruiwa vol drank kan teen R50 gekoop word en dan word daar ook ‘n Girly Tassie uitgeloot wat enige iets van velsorgprodukte en grimering tot by spa-koepons sal bevat.
Lootjies is teen R50 beskikbaar en kan by Nicoleen, 084 598 1722 of Marita Peters, 082 957 9622 gekoop word. Die trekking vind einde Oktober plaas.
Skakel ook gerus die twee dames vir verdere navrae en finansiële bydraes.


