Ek sê maar net…
RUBRIEK. - My serebraal gestremde neef, Gerrie se 50ste verjaardag is in styl gevier. Die dokters het desjare terug gedink hy sal nie ouer as vyf word nie. Hy het hul verkeerd bewys. Hier is die verjaardagstorie...
RUBRIEK. – Saterdag, 10 September was die groot dag. My serebraal gestremde neef, Gerrie se 50ste verjaardagpartytjie. Die tema was Karnavaltyd in Blommeland. Vir maande is daar gewerk en beplan om die groot dag te organiseer.
My ma het 400 blommetjies gebrei vir blomstringe. Lizie, sy suster en wettige voog, het weke voor die tyd al lekkergoed gekoop wat in die narre, ballonmanne en bekertjies moes kom.
Dit was natuurlik ‘n fout. Ek het stelselmatig my pad deur die pakkies skyfies en die lekkerste pakkies soetgoed gevind. Verlede week moes ons toe summier dorp toe vir ‘n aanvulling tot die voorraad.
Ma sê ek berokken haar net skade, maar darem het die tweede lot lekkernye ongeskonde hul weg in die verskillende houers gevind.
Die bekertjies het ma pragtig blou geverf en gevul met ‘n verskeidenheid lekkernye. Bo-op ‘n gekleurde val is daar ‘n vingerpop op ‘n gekleurde pen staangemaak.

Die vingerpoppies het my tannie Kittie (nou ook al 17 jaar oorlede) gemaak in die dae wat ma Sondag- skool gegee het.
Die ballonmanne is Saterdagoggend aanmekaargesit. My niggie se seun is ingespan om die ballon met ‘n rekkie en ‘paperclip’ deur die toegedraaide leë toiletrol te span. Sy seun, Christiaan (7) het die gesiggies geteken.
Met al die dekorasies klaar en die man van die dag, Gerrie geklee soos Trompie, op sy plek kompleet met skewe pet op die kop en kettie in die kous, het almal geskarrel om te gaan aantrek.
Kort voor lank het die plek gewemel met karakters van Koning Rosekrans tot by Alice in Wonderland, Barbie, Moana en Liewe Heksie se niggie uit Feetjieland, Levinia Elizabeth die 5de.
Gerrie se gesig was iets om te aanskou toe Liewe Heksie skielik opdaag, Koning Rosekrans die silwerroos (in die geval rooi) bring om opgepas te word en Heksie vergeet om dit op te pas. Die kleintjies het hul ouma herken, maar met groot oë hul in die storie ingeleef.
Daarna het Lizie en Gerrie gesing van pennies op die spoor en Gerrie was in sy skik toe almal sommer ‘n hele paar maal vir hom Happy Birthday sing. Hy het elke keer saamgesing.

Hy het ook gestraal toe Liewe Heksie amptelik vir hom ‘n bottel vonkelwyn (0% alkohol) gee. Met bietjie hulp het hy die kurkprop laat skiet en toe ewe ernstig vir homself ‘n glas vol geskink.
Gerrie het darem vir my ook ‘n glas geskink. Dit was nou nadat ek die heelmiddag sy ‘Happy Birthday-sash’ moes regtrek, die ballonne moes hou en sy glas Coke moes vashou as te veel mense tegelyk wil handskud.
Vir die eerste keer in baie dekades was my Ouma Bessie (doopname Elizabeth Alida) se naamgenote ook saam. My ma, Gerda Elizabeth, Bessie (Elizabeth Alida), Elize (Elizabeth Alida) en ek, Gerda Elizabeth.
Vir die groot geleentheid het die Elizabeths darem gestaan vir ‘n foto. Synde dat nie een van die vier van foto’s hou nie, was dit besonders merkwaardig.
Natuurlik het al wat ‘n Elizabeth is ‘n traan of drie weggevee tydens Elize se toespraak. Niemand het gedink Gerrie sal grootword nie. “Maksimum vyf jaar,” het die dokters destyds kwytgeraak.
Hulle was verkeerd. Hy lag as ek vir hom sê ek gaan hom nou Oom Gerhardus noem. Ek en hy is ewe oud. Saam grootgeword. Dis net Gerrie se verstand het kind gebly. Maar hy is nog hier.
Hy laat ons lag. Hy laat ons huil. Maar ons lewens sou armer sonder hom gewees het.
