Stefan wil weer Comrades aandurf ná besoek aan hospitaal
Stefan Botha van Meyerton is een van talle atlete wat tydens hierdie jaar se moordende Comrades Marathon in die hospitaal opgeneem is nadat hy by Cowies Hill inmekaargesak het. Hy het intussen herstel en is weer pedfris, gesond en reg vir volgende jaar se Comrades.
*Die berig het in die Vaalweekblad van 7 September 2022 verskyn.
“Ek het baklei om klaar te maak. Ek het gedruk vir ‘n sekere tyd,” vertel Stefan, ‘n 31-jarige meganiese ingenieur van Meyerton wat vanjaar gemik het om sy derde Comrades onder 10 ure te voltooi.
Stefan het in 2016 as lid van die Sasolburg-atletiekklub sy eerste Comrades-ultramarathon in ‘n tyd van 10:26:12 voltooi.
Die hardloop gogga het gebyt en in 2017 was hy in die kleure van die ArcelorMittal-atletiekklub terug om sy tweede Comrades in 11:27:29 te voltooi.
“Ek het een keer die wedloop in minder as 12 uur voltooi, een keer die wedloop in minder as 11 ure voltooi en wou hierdie jaar kyk of ek dit in minder as 10 ure kan voltooi,” vertel hy.
Die atleet van Meyerton het in die aanloop tot die Comrades ‘n goeie kwalifiserende marathon gehardloop en gesorg dat hy plek in die D-groep, naby aan die voorste punt, kry.
Sy wedloop het Sondag goed begin en Stefan was al in ‘n tyd van 4 uur 45 minute en 18 sekondes verby die halfpadmerk by Drummond.
Stefan sê hy het nog goed gevoel toe hy deur Pinetown gehardloop het en met minder as 20km oor in die wedloop aan die voet van Cowies Hill gekom het.
Oomblikke later het hy egter inmekaargesak.

“Die laaste ding wat ek kan onthou is dat ek deur Pinetwon gehardloop het.
Die res is alles wasig. Daar is blykbaar ‘n video wat wys hoe ek by Cowies Hill ophardloop, terwyl die meeste mense in daardie stadium begin loop het,” vertel Stefan.
Die laaste ding wat ek kan onthou is dat ek deur Pinetown gehardloop het. Die res is alles wasig. Daar is blykbaar ‘n video wat wys hoe ek by Cowies Hill ophardloop, terwyl die meeste mense in daardie stadium begin loop het” – Stefan Botha
Stefan was glo aan die bopunt van Cowies Hill toe hy naby die Thirsti-verversingspunt inmekaargesak het.
Stefan sê daar is later vasgestel dat hy onderliggend siek was voor die wedloop maar dit nie geweet het nie.
“Die dokter het uitgewys dat ek ‘n hoë infeksievlak gehad het en dit het beteken dat ek vinniger gedehidreer het.
“Ek het baie gedruk tydens die wedloop en het uiteindelik weens dehidrasie inmekaargestort.”

Hy het Sondag, Maandag en Dinsdag in die intensiewe sorgeenheid van ‘n hospitaal in Umhlanga spandeer en is Dinsdag uit die eenheid ontslaan.
Sy vrou, Carla, het verlede week in ‘n gastehuis gebly sodat sy hom in die hospitaal kan besoek. Hy het vinnige herstel getoon en sou verlede week ontslaan word.
Stefan sê Roland du Plessis, ‘n ervare Comrades-atleet van Meyerton-atletiekklub, het hom en ander atlete voor die Comrades gewaarsku dat hulle stadig moet begin, genoeg vloeistowwe moet drink en ‘n Plan B en C gereed moet hê vir indien Plan A nie op die dag uitwerk nie.
Stefan sê hy moes na Roland geluister het en is bietjie teleurgesteld omdat hy nie die raad gevolg het nie.
“Ek het gedink ek kan dit (die sub 10 uur afsny) nog maak as ek druk. Ek moes ‘n stap terug gevat, water gedrink en my planne aangepas het.”
Stefan se raad aan ander atlete is om eerder vir Plan B te gaan as jy sien jy is te ver agter.
Hy meen dit is ook belangrik om die wedloop te geniet en die atmosfeer in te neem.
Stefan sê hy gaan aanhou hardloop en gaan nie toelaat dat die voorval hom van stryk bring nie.
Hy hoop om volgende jaar weer terug te wees by die Comrades-ultramarathon.
*Twee mense is dood nadat hulle tydens die moordende Comrades-ultramarathon tussen Pietermaritzburg en Durban op 28 Augustus inmekaargesak het. Die Comrades-marathonvereniging sê altesaam 82 atlete wat aan vanjaar se wedloop deelgeneem het is ook in die hospitaal behandel, waarvan 19 opgeneem is en sewe in die intensiewe sorgeenheid opgeneem is.
Stefan Botha, ’n atleet van Meyerton, het ‘n lewensgevaarlike mediese situasie aan die bopunt van Cowies Hill, die laaste van die Comrades se Groot Vyf-bulte op pad na Durban, gehad en moes per helikopter na ‘n hospitaal in Umhlanga geneem word. Hy is in die intensiewe sorgeenheid opgeneem en het verskeie dae in die hospitaal deurgebring.

