Sammy Marks: V’ging is uit sy visie en ywer gebore
Sammy Marks is in 1999 in ‘n meningspeiling deur Vaalweekbladlesers as die plaaslike Millennium-persoonlikheid van die eeu aangewys.
VEREENIGING VIER VANJAAR SY 130ste BESTAANSJAAR. OM DIT TE HERDENK, KYK VAALWEEKBLAD VANJAAR TERUG NA DIE INTERESSANTE MENSE EN GEBEURE WAT DIE STAD HELP VORM HET. SAMMY MARKS WAS EEN VAN HULLE…
Samuel (Sammy) Marks se lewensverhaal klink soos ‘n feëverhaal van ‘n mens wat homself uit groot armoede opgewerk het tot een van Suid-Afrika se welvarendste nyweraars. Dit is ook grootliks danksy hóm dat Vereeniging tot stand gekom het.
Marks is op 11 Julie 1844 as seun van ‘n nederige Joodse kleremaker in Litaue, wat destyds deel was van Rusland, gebore. Dit was ver verwyder van die plek wat ons nou as die Vaaldriehoek ken, en waar hy in later jare so ‘n deurslaggewende rol sou speel.
Marks het as jong man na Engeland geïmmigreer, waar hy ‘n klein messlypwinkeltjie in Sheffield geopen het. In 1868 vestig hy hom in Suid-Afrika, waar hy as smous ‘n lewe gemaak het voordat hy na Kimberley se diamantvelde is om ‘n algemene handelaarswinkel te open. Sy neef, Isaac Lewis, ook van Litaue, sluit by hom aan en hulle word lewenslange vennote. (Die einste Lewis van Lewislaan in Vereeniging). In 1878 stig hulle een van die eerste maatskappye wat diamantkleims in die Kimberley-omgewing besit en bedryf het.
Mettertyd verskuif Marks se belangstelling na steenkool en mynbedrywighede en hy koop ‘n plaas langs die Vaalrivier waar groot steenkoolneerslae deur William Stow gevind is. In November 1880 stig hy De Zuid-Afrikaansche en Oranje Vrystaatsche Kolen en Mineralen Mijn Vereeniging, en so kry die nuwe dorp toe ‘n naam: Vereeniging.
Buiten mynbedrywighede het Marks sy stempel op byna elke aspek van die nuwe dorp afgedruk. In 1891 het hy en Isaac Lewis ’n vername rol gespeel in die stigting van die Nationale Bank, ‘n voorloper van vandag se Eerste Nasionale Bank, en in 1894 het hy ‘n aansienlike aandeelhouding bekom in die destydse SA United Breweries, waaruit SA Brouerye mettertyd ontwikkel het.
Kyk ‘n mens na foto’s van Marks uit daardie jare, sien mens ‘n gemoedelike man met intelligente oë wat ver kan kyk. Hy was glo inderdaad goedhartig en het baie gedoen om die lewensomstandighede van die vroeë inwoners van Vereeniging te verbeter. Dit is waarskynlik ook danksy hom dat die vroue en kinders in die Vereeniging-konsentrasiekamp goed behandel is en ‘n relatief hoë lewenstandaard kon handhaaf terwyl hulle aangehou is.
Dat Marks toekomsvisie en ‘n vlymskerp brein gehad het, is gewis. Hy kon vyf tale, insluitend Afrikaans, vlot praat en daarby het hy die vermoë gehad om mense van verskillende sienings saam te snoer, al sal sommige sê dat hy sy seile na die wind gespan het tot voordeel van sy eie sakeryk. Hy was byvoorbeeld ‘n vertroueling van pres. Paul Kruger en het goed met die Boeregeneraals soos Botha, De Wet, en De la Rey oor die weg gekom, en het terselfdertyd respek by prominente Engelse rolspelers soos Lord Kitchener en Milner afgedwing.
Marks het aan die einde van die Anglo-Boereoorlog ‘n belangrike rol as bemiddelaar tussen die strydende magte gespeel. Hy het byvoorbeeld aan die Boere en Britte ‘n terrein by sy Central-myn, waar Vereeniging Refractories later bedryf is, vir die vredesonderhandelinge beskikbaar gestel. Dit was oorkant die ingang na Rand Waterraad se huidige kantore in Barrageweg, Vereeniging. Die onderhandelinge het op 31 Mei 1902 uitgeloop op die ondertekening van die vredesverdrag, bekend as die Vrede van Vereeniging, wat ‘n einde aan die oorlog gebring het. Hoewel die ondertekening in Pretoria plaasgevind het, was die dorpie Vereeniging hiermee vir altyd in Suid-Afrika se geskiedenis ingeweef.
Marks het na die oorlog voortgegaan met sy sakebedrywighede en ontwikkelings in Vereeniging. Hy het lank voor sy tydgenote die voordele van ‘n yster- en staalfabriek raakgesien en in 1912 die Union Steel Corporation gestig. Intussen is hy in 1910 genomineer as senator in die eerste Unie-parlement – ‘n amp wat hy tot met sy dood in 1920 behou het.
* Sammy Marks is in 1999 in ‘n meningspeiling deur Vaalweekbladlesers as die Vaaldriehoek se Millennium-persoonlikheid van die eeu aangewys.


