Fondse gevra om swaksiende te help – dringend
Die lewe gebeur en soms gooi dit skewe draaie, vra maar vir Johan Japp (57). Hopelik sal hy gou sy weg na 'n versorgingseenheid vir verswakte bejaardes kan vind. Al wat nog kort is die fondse.
SASOLBURG. – Johan Japp (57) het op ‘n stadium provinsiaal en nasionaal gehengel. Sy hengeldae is iets van die verlede.
Hy het jare gelede al sy linkeroog tydens ‘n operasie verloor. Verlede jaar het hy ‘n beroerte gehad en die gebruik van sy een arm verloor. Hy kan bykans niks meer met sy regteroog sien nie.
Johan kry tans slegs ‘n ongeskiktheidstoelaag en probeer ekstra geld verdien deur motors op te pas in die N J van der Merwesingel in Sasolburg.
“Mense dra nie meer kontant by hulle nie. “Party dae kry ek net R7”, vertel hy. Hy mis sy visvangdae.
Nou is hy afhanklik van ander om hom te lei en by te staan. “Ek wens ek kon nog voltyds werk. Dit was altyd vir my lekker,” sê hy en die trane lê vlak.
Dis juis een van die dames wat by een van die kantore werk wat haar oor Johan ontferm. Van die mense help finansieel waar hul kan en verskaf ook vir hom vervoer na waar hy tans in ‘n klein tuinwoonstelletjie bly.
Hy sal egter daar moet ontruim, aangesien ‘n weldoener wat die R3 000 per maand betaal het, besef het Johan kan nie meer na homself kyk nie en gaan ophou betaal.
Johan kan ongelukkig nie meer alleen bly nie. Behalwe dat hy bykans nie meer kan sien nie, is hy ook ‘n diabeet wat daagliks insulieninspuitings moet kry. Iets wat hy nie meer kan sien om self te doen nie.
Hy sukkel ook om elke dag die nodige oogdruppels in sy oog te gooi en het bystand daarmee nodig. Hy word vir ‘n oogvirus behandel deur Ocumed wat ook deur een van die besighede in die NJ van der Merwesingel gereël is.
Daar is tans vir hom plek by Van Riebeecksentrum in die verswaktesorg afdeling. Die kostes beloop R7 000 per maand. Dit sluit drie etes per dag in.
Mense of besighede wat kans sien om maandeliks ‘n bydrae te maak dat Johan die regte behuising en versorging kan kry, word gevra om ‘n sms of WhatsApp te stuur na 082 338 5853. Alle geld sal deur die nabygeleë ouditeursfirma hanteer word.

