LifestyleLocal newsNews

Midvaal Hoofsweep Rapport – begin beplan solank vir die 2024 Provinsiale Verkiesing!

Jou stem is jou reg en al is ʼn “wegblystem” ʼn vorm van protes, word jou stem tog indirek ʼn voordeel vir die sterkste party.

Deur Phil C. Pretorius, Hoofsweep: Midvaal Plaaslike Munisipaliteit

Die hele Gauteng is weereens op hete kole oor die mosie van wantroue wat onlangs teen die Voorsitter van die Johannesburgse Metroraad (Speaker) geslaag het en die voortslepende pogings om die DA Burgemeester, dr. Mpho Phalatse daar ook uit die kussings te lig, skaars 10 maande nadat die DA daar oorgeneem het. Dit is nou maar eenkeer die gevaar van ʼn koalisie regering. Onderhandelinge tussen koalisie partye is altyd moeilik maar die Johannesburgse Metro word tans ontwrig deur ʼn party wat nie deel van die koalisie is nie. Dit voorspel egter wat vir ons voorlê in 2024.

Verkiesings in Suid-Afrika is in twee siklusse verdeel: Nasionaal en Provinsiaal vs. Distrik en Plaaslik (Munisipaal). Elk het ʼn vyf jaar termyn wat ongesinchroniseerd hardloop. Dit beteken dat die Nasionale verkiesing van 2019 weer in 2024 sal plaasvind terwyl die Plaaslike verkiesing van 2021 dan weer in 2026 op die kaarte is. In 2021 het ons dus vir munisipaliteite gestem en in 2024 stem ons weer vir Provinsies (Premier) en Nasionaal (President). Die verkose publieke verteenwoordigers word hier onderskeidelik verkies as Lid van die Parlement (LP of “MP” in Engels) en Lid van die Provinsiale regering (LPR of “MPL” in Engels).

Die Plaaslike verkiesing stem vir die Distrik en die plaaslike munisipaliteit. Die distrik, in ons geval, beslaan Lesedi (Heidelberg), Midvaal en Emfuleni (Vereeniging en Vanderbijlpark) wat bekend staan as die Sedibeng Distriksmunisipaliteit.

Hierdie munisipaliteite stem dan vir die Wyksraadslede en Proporsionele Verteenwoordigende Raadslede (PRs) om dan saam die Munisipale Raad te vorm. Hierdie aantal setels word bepaal volgens die aantal inwoners in die munisipaliteit en in Midvaal is dit tans ʼn totaal van 30 (15 wyke en 15 PRs). As raadslede aan voorgeskrewe kriteria voldoen (bv. dienstydperk, komitees, bestuur, dissipline) word hulle deur hul raad aangewys as Raadshere.

Jou stem is jou reg en al is ʼn “wegblystem” ʼn vorm van protes, word jou stem tog indirek ʼn voordeel vir die sterkste party. Dit maak dus sin om eerder vir die party te stem wat jou die meeste aanstaan (niemand is perfek nie) om daardeur te verseker dat jy ʼn invloed het in die bestuur van jou munisipaliteit en/of regering. Daar is talle gevalle waar een of twee stemme die raadslid en dus ook die bestuur van die munisipaliteit bepaal het. Dit is hoekom regerings se konstitusies voorsiening maak vir die opskiet van ʼn muntstuk of selfs ʼn kaartspel om die finale wenner te bepaal wanneer daar ʼn gelyke uitslag is. Dit is hoe belangrik elke liewe stem is.

In 2024 word die stemme nog belangriker. Noudat die statistieke wys dat nie een party met ʼn meerderheid (51% of meer) van die stemme kan wen nie, sal die Provinsiale regering (Premier) ook deur koalisie saamgestel moet word. Wanneer ons dan oorweeg hoe regerings soos die in die Wes-Kaap en Midvaal vergelyk met ander munisipaliteite waar alles in duie stort, maak dit sin dat daar daadwerklike verandering nodig is in die Provinsiale regering van Gauteng.

In die Wes-Kaap is dieselfde party in Provinsiale regering sowel as meeste van die Munisipale rade. Dit vergemaklik die samewerking en verminder die magspel soos die wat ons tans in Gauteng sien. Gereeld word opmerkings gemaak dat Midvaal die minste begroting kry, die meeste onder beurtkrag deurloop, die minste behuising ontvang, die meeste opdraande kry met spesiale projekte, die swakste provinsiale paaie het, die minste provinsiale klinieke het, geen provinsiale hospitale het nie, die meeste geteiken word vir grondgrype en die meeste onnodig ondersoek word vir korrupsie en wanbestuur. Die Wes-Kaapse Provinsiale regering het alreeds stappe in plek vir hul eie kragvoorsiening, seewatersuiwering, aanvul van die polisiediens, opgradering van skole en onderwysers, asook nuwe tegnologie soos die nuwe plastiese padoppervlaktes. In Gauteng stry ons steeds oor wie die voorsitters (Speakers) van die onderskeie Rade moet wees.

Dit is dus van kritieke belang dat ons nou reeds begin om voor te berei vir die 2024 Provinsiale verkiesing met een plan voor oë: om van SA ʼn beter plek vir ons kinders te maak. Maar om dit reg te kry, moet ons FOKUS! (Word vervolg…)

Trotse Midvaal Groete, Phil.

 

Web: www.midvaal.gov.za

Facebook: Midvaal Local Municipality en Midvaal News Network

Tel: 0861 643 8225

MyMidvaal App

 

********************************************************************************************************************************************

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Retha Fitchat

Retha Fitchat is an experienced part time journalist for Vaalweekblad. WhatsApp: 083 246 0523
Check Also
Close
Back to top button