Uit my pen – die week in Vaalweekblad
Lees van droom troues wat in nagmerries ontaard het, talentvolle tieners en nog vele meer. Ontmoet ook een van die Vaal se jongste hengelkampioene in Vaalweekblad te koop vanaf 21 September 2022.
Daar is weer ‘n groot verskeidenheid van artikels om te lees in hierdie week se Vaalweekblad.
Ek het met jong paartjies in die Vaal gesels wat ongelukkig, moedeloos en smoorkwaad is vir die organiseerders van Droom Troue. Die troues blyk nou een groot nagmerrie te wees.
So van kwaad gepraat, in die rubriek, Ek sê maar net, blaas ek stoom af oor mediese fondse en hospitale. Al gehoor van die Wet van Transvaal? Ja, dis al wat geld!
Op ‘n ligter trant het ons nader kennis gaan maak met ‘n lewende legende in Sedibeng en Meyerton se rolbalkringe, Tommie Louw. Hy is al 21 jaar president van die Meyerton Rolbalklub.
Ek het by Wihandré Burger ‘n graad 3 leerling van Vaalpark Primêr gaan inloer wat weet hoe om die groot visse te vang en reeds met ‘n rekord vir die grootste karp vir o.16 spog.
Dan was daar ook ‘n lekker kuier by ‘n jonge dame met baie talent, Chloé-Jade Christian. Haar ster skitter helder op die oomblik, maar haar voete is stewig op die aarde.
Mag julle ‘n goeie week hê en die Springbokke weer Saterdag wen!
Groetnis
