Amor Malan – Groot inspirasie vir oud en jonk
Ons kuier by Amor Malan van Shangri-La sentrum vir vir volwasse spinaal beseerde person en leer meer oor hierdie vrou wat steeds die gemeenskap help waar sy kan.
VANDERBIJLPARK. – Amor Malan groet met ‘n vriendelike glimlag. “Trek vir jou ‘n stoel nader,” beduie sy en skuif haar elektriese rolstoel nader aan die tafel in die ruim voorkamer van die sentrum.
Amor het in Zimbabwe grootgeword. “Toe was dit nog Rhodesië. Dit was in die laat 60’s, vroeë 70’s. Ek was ‘n tipiese plaaskind,” onthou sy.
Sy was 13 jaar oud en in graad 8 toe haar lewe onherroeplik verander het. “Ek het teen die bodem van ‘n swembad vasgeduik,” vertel sy. Daarna was sy ‘n kwadrupleeg.
Amor se vasberadenheid en deursettingsvermoë het in die hospitaal al deurgeskemer. “Ek het begin kerm dat ek terug skool toe wou gaan. Ek wou nie agter raak met my skoolwerk nie en ek het geweier om graad 8 oor te doen,” vertel sy.

Haar ouers het vir ‘n geskikte skool vir hul vasberade dogter gesoek en uiteindelik aan haar ‘n keuse van twee skole gestel wat spesiaal ingerig was vir kinders met fisiese gestremdhede.
Een in Johannesburg en een in Kimberley. “Ek het die Hope School in Johannesburg gekies, want dit het vir my nader aan die huis geklink. Ten minste was daar ‘n groot lughawe as ek skielik moes huis toe gaan,” vertel sy met ‘n vonkel in die oog.
Sy het goed by die skool- en koshuislewe aangepas en in 1983 haar matriek met universiteitsvrystelling geslaag.
Daarna is sy vir ‘n jaar terug Zimbabwe toe waar sy haar studies in Bedryfsielkunde deur UNISA begin het. Die volgende jaar kon sy voltyds inskakel by die destydse Randse Afrikaanse Universiteit (RAU), vandag bekend as die University of Johannesburg (UJ). Nadat sy haar B.Bedryfsielkunde-graad voltooi het, het Amor vir ‘n jaar in Zimbabwe gaan werk.
Sy het besef dat sy verder sal moet swot en is terug Johannesburg toe om haar honneurs en meestersgrade te bekom. Hier het haar pad met die Kwadruplegiese Vereniging van Suid-Afrika (vandag die QuadPara Association of South Africa) gekruis.
Nie net het sy deur hul huisvesting verkry nie, maar sy het ook al hoe meer by die vereniging se doen en late betrokke geraak.
Vir jare het haar korporatiewe werk en haar werksaamhede by die QuadPara Vereniging parallel geloop. Later het sy ook saam met ‘n vriendin in vennootskap gegaan en saam het hulle navorsingsprojekte aangepak en opleidingsprogramme aangebied, veral met betrekking tot toeganklikheid in die konstruksiebedryf en openbare vervoer uitdagings.
In 1997/8 was Amor deel van die span wat met onderhandelings begin het om ‘n sentrum vir volwasse spinaal beseerde persone op die been te bring in Vanderbijlpark. Nadat ‘n stuk grond in CE2 bekom is, kon daar begin word met die verwesenliking van hul droom.
Shangri-La het sy deure in Februarie 2000 geopen en sedertdien woon Amor in Vanderbijlpark. “Ek het moeilik hier aangepas, maar vandag kan ek aan geen ander plek dink waar ek eerder wil bly nie,” vertel sy.
Die sentrum se inwoners bestuur die plek self en is betrokke by verskeie gemeenskapsprojekte. “Ons het ‘n groep mense vir wie ons kospakkies uitdeel en dan het ons ook ondersteuningsgroepe en gesels gereeld by skole met die leerlinge oor veiligheid, dwelmmisbruik, drink en bestuur en bestuur sonder ‘n lisensie.”
Amor is lief vir lees, bak en tuinwerk. Wanneer die inwoners ‘n kans kry, geniet hulle dit om saam Kruger Wildtuin toe of see toe te gaan. “Iemand moet altyd agterbly om ‘n oog oor die sentrum te hou, maar ons probeer om soveel as moontlik inwoners op ‘n slag te gaan.”
Die sentrum het tans vyf permanente inwoners met ‘n sesde een wat volgende maand gaan aansluit. Alhoewel die sentrum selfonderhoudend is, sukkel hul tans om al die onderhoudswerk te behartig. Indien iemand kan help met fondse, toerusting of verf, kontak asseblief die Shangri-La Sentrum by (016) 933-1771.
