
VANDERBIJLPARK – Op 60 trek hy sy skoene aan, sit ’n nommer-60 op sy frokkie en gaan hardloop soos hy al 37 jaar lank doen.
En vanjaar gaan hy sy 37ste Comrades-marathon kafdraf. Dit het alles begin met ’n kolonel en ’n naweekpas.
In 1988, diep in sy weermagdae, het ’n jong soldaat gesien hoe sy kolonel hardloop en die sommetjie gemaak: as ek draf, kry ek meer rus. En die res is geskiedenis.
Johan Grant werk as ’n kwaliteitinspekteur by ’n staalmaatskappy in die Vaaldriehoek. En elke oggend trek hy sy tekkies aan.
Nie omdat hy moet nie, maar omdat dit vir hom lekker is. So eenvoudig soos dit.
Sy verhaal is nie uit ’n groot droom gebore nie. Ná sy eerste Comrades en Twee Oseane in 1988 het hy net aangehou.
Teen sy derde Comrades in 1990 het hy langs ’n man gehardloop wat ’n permanente nommer gedra het, ’n simbool van 10 of meer marathons voltooi.
Op dié oomblik het hy besluit hy wil 12 doen, sodat hy ook so ’n groen nommer kan kry. Toe word die 12 ’n 20 vir ’n dubbelnommer, die 20 ’n 30, en nou sien hy gretig uit na 40. Sy benadering tot oefening is so ongekompliseerd soos die man self.
Van Desember bou hy geleidelik op van 70 km per week tot 100 km per week teen Maart. Geen spesiale eetplan nie, geen aanvullings nie.
Net ’n bottel water of sportdrankie op die lang pad. “Ek draf, ek rus wanneer ek voel dis regtig nodig. Ek geniet dit.” Sy afrigter, Johan Brits, stel programme op en daag hom uit om grense te verskuif.
“Hy sal met iets vorendagkom en dan dink ek dís nie moontlik nie. Dan besef ek later, ek kan dit doen.” Vir die Twee Oseane-marathon is sy strategie eenvoudig.
Dit is vir hom bloot ’n lang oefenlopie. Vir die Comrades? “Ek dink nie ek het ’n strategie nie. Dis vir my net lekker, ongeag die afstand.” Hy stres nie oor hoogteverskille of kilometers nie.
Op of af nie. Hy draf net en stap as hy wil of moet. “Opgee is nooit ’n opsie nie. Ek sal stadiger beweeg as dit moet, maar ek hou aan tot dit klaar is,” se Johan wat vir ACTOM Atletiekklub in Vanderbijlpark hardloop. Hierdie jaar is egter spesiaal.
In Februarie het hy 60 geword en met ’n 60 wat nou op sy frokkie pronk, draf hy elke kilometer in die Grandmaster-kategorie kaf.
Dit is ’n nuwe hoofstuk. Wanneer hy homself op ‘n “donker” plek op die pad bevind, teer hy op sy ervaring. Hy het immers al die Gold Reef 100-myler en die Washie 160 km op sy kerfstok “Sulke afstande maak jou kop sterk.
My kop en lyf hou net aan saam draf.” Die oomblik waarna hy die meeste uitsien, is die graspylvlak. Gras onder sy tekkies, ondersteuners wat skreeu, en iets wat in sy bors begin brul. “Jy draf sommer net vinniger. Jy raak emosioneel. Dis lekker.”
Van ophou is daar nie enige sprake nie. Wat sy bucket list betref sê hy: die Twee Oseane en die Comrades maak my emmer vol.”
Hy oorweeg dalk nog ’n 100-myler voor hy 80 is.
Maar vir eers is daar vanjaar twee ultra’s en twee eindstrepe op die horison vir een man met ’n 60 op sy bors.
“Mense sê altyd jy moet ’n Comrades hardloop, dis lekker. Ek wil aanhou tot ek ook weet wat lekker is om ‘n Comrades te hardloop,” sê hy tong-in-die-kies. Aan beginners wat droom maar huiwer, het hy net ‘n paar woorde: “Moenie net droom nie, doen dit.”
