VEREENIGING – Die jong hamergooisensasie JP Theron, ‘n leerling aan die Hoërskool Driehoek, is besig om ‘n merkwaardige seisoen te bou.
Een wat hom nie net op die nasionale toneel laat uitstyg nie, maar hom ook al hoe stewiger tussen die wêreld se beste o18- atlete vestig.
Net ’n paar weke ná sy indrukwekkende 71.24 m-gooi wat hom vroeër vanjaar negende op die wêreldranglys geplaas het, het Theron die merker nóg verder geskuif.
Op 9 Mei in Potchefstroom het hy ’n uitmuntende 73,76 m met die 6 kg-hamer gegooi. ’n Prestasie wat sy wêreldposisie na sesde plek opstoot. “Alhoewel dit oorweldigend is vir my, weet ek my krag kom van die Here af,” sê hy.
Theron beskryf die kompetisie tussen hom en mede-gooier, Lincoln Kunneke, as intens maar gesond. Sy wenpoging op die laaste gooi was vir hom onverwags, maar betekenisvol.
Agter sy groeiende sukses lê ’n roetine van harde werk en opoffering.
Hy oefen ses dae per week, soms reeds om 05:00 en dikwels eers klaar om 18:00. Sosiale tyd is skaars, maar sy vriende staan hom getrou by.
“Gelukkig het ek goeie vriende wat dit verstaan en eerder by my kom staan terwyl ek oefen en my ondersteun.”
Theron word afgerig deur ‘n gedugte span. Een van sy mentors is die voormalige Afrika-hamergooikampioen Alan Cumming, wie se insae hom help om gefokus te bly.
“Ek het uit sy ervaring geleer om die sport te doen vir myself en nie vir ander se toejuiging nie.” Sy ander afrigter, Chris Harmse ‘n Statebond en veelvoudige SA Kampioen, druk hom hard in oefensessies. Iets waarvoor hy dankbaar is.
“Te danke daaraan verwerk ek die druk baie vinniger tydens kompetisies indien ek oorweldig begin voel.” Vir Theron is die oomblik net voor die hamer losgelaat word, magies én bepalend.
“Daardie oomblikke voordat die hamer vlieg kan ek nie beskryf nie, maar daar word jou gooi bepaal.” Hy fokus veral op tegniek. ’n Los bolyf en sterk dryf uit die bene.
“Jou bolyf is soos ’n sweep, en hoe langer en losser jy hom kan hou, hoe beter.” Al het sy prestasie sy wêreldranglys verbeter, bly sy waardes stewig geanker.
“Niks het verander nie, want ek is goed genoeg daarmee of sonder dit.
Ek werk vir myself en om eer aan die Here te bring.” Hy hoop wel dat dit dalk ’n borgskap kan meebring, maar dit is nie sy dryfkrag nie.
Noudat hy wêreldwyd in die top 16 is, wag hy op bevestiging van Atletiek Suid-Afrika (ASA) oor die span wat na die Jeug Olimpiese Spele van 31 Oktober tot 13 November in Dakar, Senegal, vertrek.
Intussen stel hy sy visier in op nuwe mikpunte om die tweede beste o18-hamergooier in Suid-Afrika te word om 78m te oortref, en om sy vierde rekord by die Oranje/Grey-byeenkoms in Oktober te verdedig.
Vir hom is die reis nog lank nie verby nie. “Die werk het net begin. Ek loop in die spore van groot gooiers en ek wil graag hulle trots maak.
