Local newsNewsNews

Nederig, talentvol met ‘n passie vir die lewe

Ontmoet 'n jonge dame met baie talent, Chloé-Jade Christian. Haar ster skitter helder, maar haar voete is stewig op die aarde.

VEREENIGING. – Chloé-Jade Christian (15) gryp elke geleentheid wat na haar kant toe kom met beide hande aan.

Die talentvolle jong dame doen alles met passie, van haar skoolwerk tot modelwerk en haar musiek. Sy handhaaf haarself ewe goed in Engels en Afrikaans op die verhoog en in redenaarskompetisies.

Haar belangstellings dek ‘n wye spektrum en sy geniet elke aktiwiteit ewe veel. Sy was net ses jaar oud toe sy vioollesse begin neem het. Sy moet nog haar graad 6 eksamens speel, maar op die stadium is daar nie tyd daarvoor nie.

Chloé-Jade is gekies as een van die finaliste van die International ARTS Talent Showcase. Behalwe dat sy haar oudisies met vlieënde vaandels geslaag het, is sy ook gekies om deel van die openingsgeleentheid te wees wat by die Silwerstar Casino in Krugersdorp gehou gaan word.

Die International Arts Showcase vind vanaf 29 September oor ‘n tydperk van drie dae plaas en daar sal verskeie internasionale agentskappe teenwoordig wees. Sy is een van ‘n handvol wat gekies is om elke dag op te tree.

Nie net gaan sy die sangafdeling elke dag met haar goue stem open nie, sy is ook deel van die modelle wat die loopplank gaan bestyg namens Ford Models.

Jare se sang, drama en danslesse het haar talente geslyp en nou is haar tyd om dit te laat skitter. “Ek het nie ‘n gunstelingtydverdryf nie. As ek sing voel ek dadelik beter. Ek love dit en sal enige tyd en plek sing.”

Haar viool is ook vir haar kosbaar en sy sê sy voel die musiek wanneer sy speel. Wanneer sy besig is met drama voel dit vir haar of sy die hele wêreld agterlaat. “I can be whoever I want to be,” beduie sy met ‘n glimlag.

Sy het met modelwerk begin nadat sy in die laerskool geboelie is en dit haar selfvertroue ‘n knou gegee het. “Modelwerk het my my selfvertroue teruggegee. Wanneer ek op die loopplank is, voel ek on top of the world.”

Sport is vir haar ‘n groot lekkerte. Sy geniet haar hokkie en netbal ewe veel, maar moes noodwendig krieket los weens haar vol program. “Ek het krieket baie geniet, al het ek nie regtig geweet wat daar aangaan nie,” lag Chloé-Jade lekker.

Intussen was sy die jaar ook deel van Leeuwenhof Akademie se revue en dan is daar nog die skool se drama ook.

‘n Mens sou dink haar akademie bly agterweë, maar die flukse tiener glo daaraan om haar akademie op ‘n hoë standaard te handhaaf. Na skool wil sy graag in ‘n mediese rigting studeer en daarom maak sy seker haar punte bly hoog.

Die tiener laat haar deur niks onderkry nie. Elke uitdaging vat sy met oorgawe aan. Haar ma, Charmaine, sê Chloé-Jade was van kindsbeen af selfgedissiplineerd en openbaar steeds ‘n volwassenheid ver bo haar jare.

Chloé-Jade skud net haar kop oor al die komplimente. Vir haar is dit eenvoudig. Sy leef vanuit haar geloof en sê sy bid voor elke geleentheid wat sy aanpak om ten minste een persoon aan te raak.

“Ek leef vir die Here en volgens Fil:4:13. Al is ek senuweeagtig, dan sê ek net vir myself. Ek kan dit doen,” glimlag sy. Dis duidelik hierdie talentvolle dame se voete is vas op die aarde en dat sy dit nog ver gaan bring.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Gerda Bruinette

Gerda Bruinette, senior journalist and columnist at Vaalweekblad, writes with compassion and a keen sense of human nature. Always striving to find positive and feel-good stories. Email: gerda@mooivaal.co.za
Back to top button