Vaal verloor nog ‘n geliefde sakeman (35)
Steven Mc Intyre (35) 'n bekende en geliefde sakeman is Vrydagoggend langs sy bed aangetref nadat hy glo gedurende die nag verstik het.
“Steven was so ‘n liefdevolle en geliefde mens. Sy skielike dood is bitter hartseer en vir ons as ‘n familie ‘n groot skok.”
Dit is die woorde me. Lee Loubser, suster van wyle Steven McIntyre, bekende plaaslike sakeman.
Steven is Vrydagoggend, 16 September in die vroeë oggendure leweloos op die vloer van hul slaapkamer in hul dubbelverdiepinghuis in Drie Riviere-Oos deur sy vrou Magitte, aangetref.
Die rede vir Steven se dood word volgens ‘n nadoodse verslag as “verstikking” aangedui.
Volgens Magitte was Steven die Donderdagmiddag saam met vriende en werknemers by sy sakeperseel waar daar gebraai is.
“Hy was teen 21:00 reeds by die huis,” vertel Magitte, wat in daardie stadium by ‘n vriendin in Vanderbijlpark gekuier het.
Toe sy omstreeks 21:40 by die huis kom, het hy reeds geslaap.
Magitte wou hom nie wakker maak nie, maar het hom ‘n nagsoentjie gegee.
Sy het die volgende oggend wakker geword en besef dat hy nie saam met haar in die bed is nie.
Sy het opgestaan om hom te gaan soek en hom op die vloer voor die bed aangetref.
Daar word vermoed dat Steven gedurende die nag opgestaan het om iets te eet, waarna hy verstik en versmoor het.

Steven sal onthou word as ‘n joviale mens wat lief was om te gee en baie geliefd was onder sy vriende en kollegas.
Hy was ‘n Valie in murg en been wat aan die Laerskool Risiville en die voormalige Hoër Tegniese Skool Vereeniging (nou Vereeniging Gimnasium) skoolgegaan het.
Magitte vertel: “Hy was ‘n reguit mens. Hy was nie ‘n ontvang mens nie, maar ‘n gee mens.
“Hy was lief daarvoor om my te bederf. Hy sou eerder vir ander mense iets moois koop as vir homself.”
Hy was ook by skole betrokke waar hy gereeld ‘n bydrae gemaak het vir behoeftige leerders.
Volgens Magitte het sy en haar man ‘n punt daarvan gemaak om in die gemeenskap terug te ploeg.
“Hy was ‘n baie persoonlike mens. Hy het nie baie oor sy probleme gepraat nie, maar hy het baie gesukkel met die afsterwe van sy ma, sy oom en sy neef, wat almal in ‘n kort tydperk na mekaar oorlede is,” vertel sy.
Steven se ma Giney, aan wie hy baie naby was, is twee jaar gelede oorlede.
Magitte en Steven, wat mekaar ‘n paar jaar gelede deur gemeenskaplike vriende by ‘n sewesrugby-toernooi in Kaapstad ontmoet het, was skaars ‘n jaar getroud.
Hulle sou op 20 November hul eerste huweliksherdenking vier.
Steven word oorleef deur Magitte, sy 6-jarige dogtertjie uit ‘n vorige huwelik, sy pa Steven Harold McIntyre en sy suster, Lee Loubser (38).
* Steven se begrafnisdiens word Vrydag, 23 September om 11:00 vanuit die NG Kerk Suikerbos gehou.
Vaalweekblad se innige simpatie aan Steven se geliefdes.

