Vroeë inskrywings vir fietstoer open vandag
Die organiseerders van die jaarlikse Kaapstad-fietstoer sê vroeë inskrywings vir volgende jaar se fietstoer sal om 13:00 vanmiddag (23 September 2022) open.
Slegs betaalde lede van die Pedal Power-vereeniging en deelnemers wat nege of meer Kaapstad-fietstoere afgelê het sal vir eers kan inskryf.
Die res van die deelnemers sal eers later die geleentheid kry om vir die fietstoer in te skryf, wanneer die algemene inskrywings open.
Volgende jaar se Kaapstad-fietstoer sal op 12 Maart 2023 plaasvind.
Die Kaapstad-fietstoer is in 1978 vir die eerste keer gehou en het oor die jare gegroei tot die wêreld se grootste fietstoer waarvan tye gemeet word.
Dit is beslis ook een van die mooiste fietstoere in die wêreld.
Die fietstoer het oor die jare talle bekendes gelok, soos die omstrede Lance Armstrong (wat die Tour de France sewe keer gewen het voordat hy gediskwalifiseer is), die akteur Matt Damon (wat in 2009 tydens die verfilming van die fliek Invictus die fietstoer saam met Springbokkaptein Francois Pienaar afgelê het), die legendaries fietsrykommentator Phil Ligget, die naelryer Mark Cavendish (wat in 2015 die fietstoer gery het en derde gekom het) en die Britse entrepreneur, Sir Richard Branson (wat die Kaapstad-fietstoer in 2013 gery het).
Inskrywings kan by www.capetowncycletour.com gedoen word.
