Wihandré (9) laat die katrolle sing
Wihandré Burger ‘n graad 3 leerling van Vaalpark Primêr weet hoe om die groot visse te vang en spog reeds met ‘n rekord vir die grootste karp vir die ouderdomskategorie waarin hy vang.
SASOLBURG. – Hy is net 9 jaar oud, maar Wihandré Burger is besig om vinnig opgang te maak in hengelkringe.
Die knapie het in twee jaar al verskeie bekers en medaljes ontvang vir varswater oewerhengel, asook vir ligtegerei boothengel. Boonop kompeteer hy reeds met 16-jariges.
Hy het onlangs met verskeie medaljes en trofeë weggestap by die Hap en Kap Hengelklub en die Vasbyt Boot Hengelklub se prysuitdelings.

Dit was nadat hy verlede jaar rekords gebreek het met ‘n karp van 5.35 kg! Dis ‘n massiewe vis vir ‘n outjie wat op daardie stadium in graad 2 was, om man alleen uit die water te trek.
Om van die boot af te vang is sy forte. Hy het juis ‘n prys gekry nadat hy die swaarste sak ingeweeg het, 22.35 kg.
Oor al die prestasies trek hy net skouers op en glimlag. Sy ma, Sonja reken hy is net gelukkig, maar Wihandré sê dis sy afrigter en stiefpa, Dawie Janse van Rensburg, wat hom so mooi leer.
Dawie lag net. “Ek het die twee, (Sonja en Wihandré) ‘n paar wenke gegee en nou vang hul beter vis as ek. Kyk net al die trofeë daar agter. Ek dink ek het een medalje tussen die lot,” spot hy.

Foto: Gerda Bruinette
Of Wihandré instinktief weet waar die vis speel en of dit die aas is wat hy gebruik weet niemand nie, maar almal sal ingooi aan die een kant van die boot en niks vang nie, dan gaan gooi hy aan die ander kant en die visse baljaar om sy hoek te vat. Die oomblik as hy plekke ruil, dan is die vis weer stil.
“Ek het die beste dip in die wêreld. Dit werk,” beduie hy, maar soos ‘n ervare hengelaar weier hy om sy geheim weg te gee.
Hengel is nie al op sy lys van bedrywighede nie. Hy het vanjaar ook begin krieket speel en sê hy hou daarvan om die balle te slaan.
Vertel dan ernstig hoe ‘n skool teen wie hulle gespeel het, alles verkeerd geboul het.“Dit was of te wyd of te hoog. Aan die einde van die wedstryd het ons nog al ons paaltjies gehad, maar hulle het alles verloor,” vertel hy.
Wihandré is ‘n trotse leerling van Vaalpark Primêre Skool. Hy hou baie van sy juffrou en geniet wiskunde die meeste.
Sonja sê dis omdat sy hom as kleuter reeds by ‘n spesiale wiskunde program ingeskryf het. Hy was so gelukkig soos ‘n baber in Vaaldam en was maar 4 jaar oud toe hy as kampioen in die streekskompetisie van Genius Mathematics aangewys is.
