LifestyleLocal newsNews

Boer dalk sy erfplaas kwyt – suster pleit vir hulp

Enigiemand wat die Malans wil help om die plaas te behou, kan ‘n inbetaling maak aan HF Malan, Tyme bank, Spaarrekening: 51050418758, takkode: 678910

VANDERBIJLPARK. – ‘n Boer wat sy familieplaas geërf het nadat sy ma in Augustus vanjaar gesterf het, het pas met ‘n skok ontdek dat hy moontlik sy erflating gaan verloor omdat hy nie die eksekuteurs- en oordragkoste om die plaas amptelik op sy naam te kry, kan bekostig nie.

Mnr. Hennie Malan (46), wat al jare op die einste familieplaas Klipkop, so 30 km buite Vanderbijlpark boer, se ma, mev. Ria Malan, is op 13 Augustus aan diabetesverwante oorsake oorlede. Sy was ten tyde van haar dood ‘n weduwee en het die plaas aan Hennie, haar enigste seun, bemaak. Dit is sy enigste bron van inkomste en die enigste plek wat hy as sy “huis” ken.

“My ma was ‘n natuurmens wat graag op die plaas gestap het. Sy was ‘n vrou met ‘n hart van goud,” sê Hennie. Haar dood was ‘n groot verlies, en toe kom die verdere skok van die hoë oordrag- en boedelkoste.

“Toe ek en my twee susters uitvind die eksekuteurs- en oordragsfooie gaan R73 197 beloop, het ons geweet hier kom probleme. Hoewel die plaas vir R1.1 miljoen gewaardeer is, boer ons op klein skaal en maak net-net ‘n lewe daaruit. Ons het nie die soort kontant om op kort kennisgewing soveel te kan betaal nie,” sê Hennie, wat ongetroud is.

Hy het intussen daarin geslaag om R40 000 bymekaar te skraap, maar kort nog meer as R30 000 om die plaas te kan behou.

Sy oorlede pa het die grond in 1982 gekoop terwyl hy nog by Mittal (destyds Yskor) gewerk het. Hennie was nog ‘n skoolseun. “Daar was niks op die plaas toe my pa dit gekoop het nie; net sonneblomreste wat op die lande gestaan het. Daar was nie eers ‘n koelteboom nie, net een appelkoosboom langs die grensdraad,” onthou hy.

Terwyl hulle nog in ‘n dorpshuis in Vanderbijlpark gewoon het, het sy pa in sy vrye tyd ‘n tenkstaander en stoor in die agterplaas begin bou en dit stuk-stuk met ‘n Toyota Hilux-bakkie plaas toe aangery en daar aanmekaargesit. In 1988 kon die Malan-gesin permanent plaas toe trek en het eers in ‘n tydelike huis gebly totdat hul pa later ‘n baksteenhuis vir hulle gebou het.

“Die eerste jaar het my pa net groente geplant en daarna met die melkery begin, waar ons nog met die hand moes melk. Vandag melk ons darem al met ‘n masjien.” Sy pa is in 2014 oorlede, waarna Hennie en sy oudste suster, Trientjie (47) saam met hul ma ‘n gemengde boerdery voortgesit het. Hoewel hulle ‘n lewe uit die verkoop van melk, eiers, braaikuikens en groente kon maak, dek die inkomste net hul noodsaaklikste behoeftes.

Nadat Hennie en sy susters aan elke moontlike uitweg gedink het om die uitstaande bedrag vir die oordragskoste bymekaar te maak, het sy jongste suster, Malanie (35), met die plan vorendag gekom om ‘n Back-a-buddy-fonds vir Hennie te stig.

In haar motivering doen sy ‘n hartroerende beroep op die publiek om haar boetie te help om sy plaas te behou. Selfs ‘n donasie van R10 of R20 kan ‘n verskil maak.

Enigiemand wat die Malans wil help om die plaas te behou, kan ‘n inbetaling maak aan HF Malan, Tyme bank, Spaarrekening: 51050418758, takkode: 678910.

* Die Back-a-buddy berig kan gelees word by https://www.backabuddy.co.za/hennie-malan-5391537726217082210.

 

Die Malan-sibbe, Hennie, Malanie en Trientjie, ‘n paar jaar gelede saam met hul moeder, mev. Ria Malan, wat in Augustus vanjaar oorlede is.

**************************************************

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Retha Fitchat

Retha Fitchat is an experienced part time journalist for Vaalweekblad. WhatsApp: 083 246 0523
Back to top button