Droom troues ontaard in nagmerries
Vaalweekblad het met jong paartjies in die Vaal gesels wat ongelukkig, moedeloos en smoorkwaad is vir die organiseerders van Droom Troue. Die troues blyk nou een groot nagmerrie te wees.
VANDERBIJLPARK. – Troues het ‘n duur storie geword. Wie sal dan nie poog om ‘n kompetisie te wen wat jou troue betaal nie? ‘n Troue ter waarde van R500 000. Boonop is daar ‘n kans dat jou troue op ‘n Afrikaanse TV-kanaal uitgesaai gaan word. Wie sal nie inskryf nie?
Dit is wat baie paartjies gedoen het, en ongelukkig steeds doen. Droom Troue, bedryf deur Be your dream, blyk ‘n totale nagmerrie te wees. Wat op die oog af heel goed begin het, lyk nou soos ‘n kaarthuis wat intuimel.
Mara se storie
Vaalweekblad het met ses paartjies kontak gemaak in die Vaaldriehoek en weet van baie meer wat deur hierdie skema ingeloop is.
Mara (skuilnaam) sê sy het in Januarie 2021 die advertensie op TV gesien en ingeskryf. Daarna is hulle vir ‘n onderhoud by ‘n studio in Alberton genooi.
‘n Paar dae later is hulle ingelig dat hulle gewen het. ‘n Kontrak, wat die organiseerder, Lana de Jager, ‘n Memorandum of Understanding noem, is aan hulle gestuur. Hulle moes R50 000 betaal. In ruil daarvoor sou hul ‘n luukse troue volgens hul spesifikasies kry. Die geld is in Februarie 2021 oorbetaal.
Later het hul ‘n datum gekry vir hul troue in Desember 2022. Intussen is ‘n program op ‘n ander kanaal uitgesaai waar daar ondersoek ingestel is na bruide wat gekla het oor hul sg. droom troues.
Op 5 Julie vanjaar is Mara-hulle en sowat 200 ander paartjies na ‘n spoggeleentheid van die organiseerders genooi. Die paartjies is meegedeel dat die TV-kanaal onttrek het, maar dat die troues sal voortgaan en op ‘n aanlynkanaal uitgesaai sou word.
“Hulle het belowe om ons teen die einde van Augustus te laat weet waar ons troue gehou sal word. Tot op hede het ons nog niks gehoor nie. Ek weet ook nie wie die blomme, klere en troukoek gaan doen nie. Hulle antwoord geen oproepe of WhatsApps nie,” het sy moedeloos gesê.
Mara weet van nog vyf paartjies in die Vaal, onder andere een van haar kollegas en haar niggie, wat ingeloop is.
“Ons het ook agtergekom dat almal “wen”. Ek weet van mense wat voor dooiemansdeur opgedaag het met hul gaste op die dag wat die troue moes plaasvind. Ander het ‘n kartonkoek gekry en dooie blomme op die tafel. Niemand mag foto’s neem nie. Bruide kla ook hul kry nie hul foto’s nie, want die fotograwe is nie betaal nie.”
Op Droom Troue se Facebookblad is die advertensie intussen verander van “wen” na “wees deel van ‘n Droom Troue”.
Bianka Strydom vertel haar verhaal
Bianka van Meyerton het ook teëspoed opgetel. “Iemand wat ons ken het ons ingeskryf. Op 2 Desember 2021 het ons gehoor ons het gewen. Die organiseerders het dadelik druk op ons gesit om R40 000 te betaal en die betaling is op 4 Desember 2021 gedoen,” vertel sy.
Nadat hul die geld oorbetaal het, het hul gesukkel om ‘n datum vir die “spogtroue” te kry.
“Hulle wou eers hê ons moes op ‘n Donderdag trou. Ons wou nie. Op ‘n kol het hulle ‘n Save the Date vir 27 Augustus vanjaar aan ons gestuur.
Daarna het die gesukkel begin om ‘n venue uit die organiseerders te kry. Uiteindelik is ‘n vyfster plek in Pretoria deurgegee. Die eerste week in Augustus vanjaar het ‘n vriendin Bianka geskakel en gesê sy was by een van die sg. Droom Troues en alles was deurmekaar.
Bianka het die bruid gekontak en sy het vertel hulle is die Maandag voor hul die Vrydag moes trou, deur die organiseerder gekontak. Daar is aan hulle gesê hulle moes of self vir verskeie goed betaal of die troue met ‘n jaar uitstel.
Bianka het bly hoop haar troue gaan uitwerk, maar het teen 6 Augustus vanjaar die nommers van die verskaffers in die hande gekry. Van hulle het vir haar gesê hulle werk nie meer saam met Droom Troue se mense nie, ander was baie vaag.
Niemand het haar naam op rekord gehad nie. Tot haar ontnugtering moes sy hoor die venue het ook onttrek.
“Ek het die organiseerders seker 20 maal per dag gebel en kon uiteindelik ‘n afspraak by hul kry op 9 Augustus,” vertel sy. Daar aangekom het Lana gemaak of sy niks van hul weet nie en het alle aantygings oor die verskaffers se onttrekking ontken.
Toe Bianka die eienaar van die venue in haar teenwoordigheid kontak, het daar ‘n groot twis ontstaan. “Ons was drie ure daar en het uiteindelik net gery.” Die Strydoms is op 27 Augustus getroud, maar het alles self betaal.
Vossie Schlebusch is kwaad, met rede
Vossie van Vaalpark is woedend omdat sy dogter, Lieschke ook ingeloop is. “Ek het van die begin af gedink daar is fout. Toe ek hoor Lieschke moes R50 000 neersit, het ons die mense gaan sien.
“Ek het vir Lana gesê ek sal in paaiemente betaal, waarop sy gesê het hulle kan niks begin reël alvorens die geld nie alles betaal is nie. Ek het toe R7 000 per maand betaal.”
Nadat Vossie-hulle die klagte-program op TV gesien het, het hy weer ‘n vergadering met Lana belê. Soos in Bianka se geval, en nadat hul meer as drie ure moes wag, het Lana gemaak asof sy geen idee het wie hulle is nie.
Sy het hulle eers met mooi woorde probeer ompraat en daarna gesê hulle moet ‘n brief skryf. Haar prokureur sal besluit of Vossie die geld gaan terugkry. “Dis sommer bog. Hulle het nog niks gedoen om die troue te reël nie. Ons het gekanselleer en nou wil hulle nie ons geld teruggee nie,” het Vossie omgekrap gesê.
‘Droom Troue BEWARE’ op Facebook
Christian Grobler van Kuruman het ook ‘n stel met Droom Troue afgetrap. Anders as die meeste ander paartjies, is hy ‘n gesoute besigheidsman. Hy het besluit om die saak te ondersoek.
“Ons het in Mei 2022 gehoor ons het ‘gewen’. Ek was self by die studio gewees en dit het ‘n goeie indruk op my gemaak, maar toe sien ons die program op TV waar bruide lang trane huil en besluit om te kanselleer.
Sy het geweier om ons geld terug te gee,” vertel hy. Hy het by die Facebookgroep, Droom Troue BEWARE, aangesluit. Die groep het tans oor die 1 700 lede, die meeste ontevrede bruide, hul ouers en verskaffers wat nie betaal is nie. Vandaar het hy ‘n WhatsApp groep begin en het reeds meer as 200 paartjies se verklarings gekry.
“Sy het nou al ‘n saak van intimidasie en blackmail teen my probeer oopmaak, maar ek gaan nie ophou nie. Ek wens hulle wil my hof toe vat, ek het baie bewyse,” het Christian gesê.
Intussen het hy die saak aan ‘n spesiale eenheid in die polisie oorhandig wat reeds met hul ondersoek begin het.
Te goed om waar te wees
Die hartseer van dit alles is dat daar daagliks steeds paartjies is wat inskryf. Blykbaar is bruide nou al geboek tot in 2024. Die vrou gaan voort asof niks verkeerd is nie en beskou enige kritiek as bloot ‘n smeerveldtog teen haar.
Honderde bruide se drome lê aan skerwe en baie se ouers of hulself sit nou met lenings wat afbetaal moet word. Hoe het die oumense altyd gesê? As iets te goed klink om waar te wees, is dit gewoonlik.

