Hettie wil kuns in die Vaaldriehoek bevorder
Hettie Hayward-Pretorius wil kuns in die Vaalrdriehoek bevorder
VEREENIGING. – Kuns is haar passie en sy wil graag kunsvaardighede aan die mense van die Vaaldriehoek leer.
So sê Hettie Hayward-Pretorius (46), ‘n plaaslike kunsonderwyseres en eienaar van die Dreamz Glass & Art School in Arconpark.
Sy gee al die afgelope agt jaar kuns en ontwerp as agtste vak aan hoërskoolleerders wat die vakke graag wil neem waar hul skole dit nie aanbied nie.
Haar leerlinge is van skole soos die Fundamental Private School, Vereeniging Gimnasium, Roshnee Secondary High School, die Hoërskool Overvaal, die Hoërskool Dr. Malan, die Laerskool Vryheidsmonument en die CVO Skool in Bloemfontein.
Daar is tans 16 leerders van plaaslike hoërskole wat kuns as agtste vak by Hettie se kunsskool neem.
Baie van die studente stel daarin belang om na skool ‘n loopbaan in grafiese ontwerp, argitektuur of ander kunsrigtings te studeer.
Hettie gee ook kunsklasse aan laerskoolleerders en volwassenes.
Een van haar studente, Cherizka Marx, droom daarvan om eendag ‘n volwaardige tatoeëerkunstenaar te word en het vyf maande gelede kunsklasse by Hettie begin neem.
Sy het intussen werk gekry by Python Ink, ‘n tatoeëerplek in Vanderbijlpark, waar sy besig is om ondervinding op te doen.
Cherizka meen die kunsklasse het vir haar selfvertroue gegee waarsonder sy nie haar nuwe werk sou kon aanpak nie.

Hettie sê: “Dit is vir my ‘n passie om kinders te leer om iets met kuns te kan doen.
“Daar is meer as 60 soorte werksgeleenthede in ons land in kuns beskikbaar. Die skole help eenvoudig nie die kinders om daardie potensiaal te bereik nie,” meen Hettie.
Kuns as vak bied goeie voorbereiding vir leerders wat graag kurators by kunsgalerye, modeontwerpers, binneshuise ontwerpers, kreatiewe bestuurders by tydskrifte, uitlegkunstenaars, tekenaars of argitekte wil word. Kuns as vak tel volgens Hettie ook vir toelatingspunte by Suid-Afrikaanse universiteite en kan deur leerders gebruik word om meer punte te behaal.
Hettie nooi leerlinge in die Vaaldriehoek wat graag in graad 10, 11 en 12 kuns as agtste vak wil neem om met haar in verbinding te tree.
“Hulle (die leerders) registreer die vak by die skool sodat dit deur die sisteem gaan. Die ouers betaal my om die klasse aan te bied.
“Ek doen al die papierwerk en sorg dat die eksamens geskryf word en dat daar aan al die vereistes van die departement van onderwys voldoen word,” verduidelik Hettie. Die klasse word na-ure en dikwels by haar studio in Zialaan in Arconpark aangebied.
Volgens Hettie werskaf leerders smiddae tussen 14:00 tot 17:00, op Saterdae en op vakansiedae by haar kunsklasse.
By sommige skole, soos Hoërskool Dr. Malan in Meyerton, waar daar tans meer as vyf leerders is wat kuns as vak neem, bied Hettie kuns by die skool aan.

Hettie sê sy het aan die Vaal Universiteit van Tegnologie studeer en is daarna na die Universiteit van Pretoria waar sy geleer het om glas te blaas.
Sy het daarna na die Vaal Universiteit van Tegnologie teruggekeer waar sy na-onderwys (“post education”) studeer het.
Sy het by Riverside High School skool gegee, maar mediese omstandighede het haar genoop om haar eie studio te begin.
Die werke van Hettie se kunsstudente is Dinsdag, 6 September by Rivierplaas in Meyerton uitgestal.
Die uitstalling vind een keer per jaar plaas.
Volgens Hettie dien die uitstalling as ‘n eksamen vir haar graad 10, 11 en 12-leerders, waartydens hulle punte vir hul werke kry.
Hettie se graad 11-studente is ook beoordeel vir die reël van die geleentheid.
Die ouers van leerders vanaf graad 10 tot 12 wat belangstel om kuns as agtste vak te neem, kan Hettie by 060 508 0405 skakel.
Sy bied ook kunsklasse vir jonger leerders en volwassenes aan.



