Local newsNewsNews

Diereliefhebber Lindie ernstig beseer in honde-aanval

Sy sal na verwagting eers na middernag in Bloemfontein aankom, waar 'n noodoperasie so gou as moontlik gedoen sal word.

 

Me. Lindie van Rooyen, stigter en direkteur van PurrPaws for Life Animal Shelter, is tans per ambulans op pad na Bloemfontein vir intensiewe behandeling nadat sy vroeër vandag deur ‘n hond aangeval is.
Lindie is vanmiddag na ‘n huis in Sasolburg uitgeroep om hulp te verleen met ‘n kwaai hond (na bewering ‘n boerboel of boerboel-kruising). Sy het die hond glo onder beheer gekry maar die dier het haar skielik aangeval. Lindie is aan die maag gebyt en haar linkerkuit is verskeur.
Die voorval het omstreeks 14:00 vanmiddag plaasgevind.

Lindie, wat nie lid van ‘n private mediese fonds is nie, is in die Sasolburgse staatshospitaal opgeneem, waar besluit is dat sy na Bloemfontein oorgeplaas moet word vir gespesialiseerde behandeling.

Sy moes egter sowat 6 ure op ‘n staatsambulans wag om daarheen vervoer te word. Die ambulans het omstreeks 21:00 uit Sasolburg vertrek en sal na verwagting eers na middernag in Bloemfontein aankom, waar ‘n noodoperasie so gou as moontlik uitgevoer sal word. Volgens Lindie se dogter, Chanel, verduur sy baie pyn.
Chanel sal voorlopig die versorging van die diere by die hondehawe oorneem. Die grootste bekommernis is tans om genoeg kos vir die meer as 100 honde, katte, perde en varke in te samel. Mielies word ook benodig vir die hoenders en ganse.

Vaalweekblad sal more afsetpunte bekend maak vir mense wat dierekos wil skenk, en bankbesonderhede verskaf vir diereliefhebbers wat ‘n bydrae vir kos wil maak.
* Hierdie is ‘n ontwikkelende berig. Vaalweekblad sal more verder terugvoer gee. Intussen bid ons Lindie alle sterkte toe.

 

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Retha Fitchat

Retha Fitchat is an experienced part time journalist for Vaalweekblad. WhatsApp: 083 246 0523
Back to top button