Local newsNewsNews

NG Fonteine se prettige fees

NG Sasolburg Fonteine se Lentefees en Kinderkarnaval het vir groot opwinding, hope vermaak en baie lag gesorg.

SASOLBURG. – Die NG-gemeente Sasolburg Fonteine se Lentefees en Kinderkarnaval was Vrydag, 23 September ‘n groot sukses.

Die parkeerarea was vroegmiddag al vol en op die kerkterrein het nie eens beurtkrag die vreugdevolle atmosfeer gedemp nie.

Richard (10) en Johan (11) Furter met hul vrolike skeppinge. Richard het eerste plek verower in die juniorafdeling Foto: Gerda Bruinette

Die jongspan het eerste die kans gekry om koeke te versier. Daar is met groot ywer te werk gegaan en die glimlagte was groot toe die beoordelaars vir elke deelnemer ‘n sertifikaat van deelname oorhandig het.

Na al die soete opwinding het Lumiére Primêre Skool se ‘pom-pom’ spannetjie die skare met hul energieke vertoning vermaak voordat die kleingoed van Kleine Einstein Kleuterskool ‘n sirkusvertoning gelewer het. Dit was tot groot vermaak van die omstanders.

Vaalpark Primêr se graad R cheerleaders het ook hul buiging by die fees gemaak en die gesiggies het behoorlik gestraal. Intussen het die kinders hulself gate uit geniet by die Kinderkarnaval en oral was geverfde gesigte te bespeur.

Die twee vrolike narre was deel van die Kleine Einsteins se “sirkusvertoning”.
Foto’s: Gerda Bruinette

Hongermakende geure, van pannekoek tot kerrie en rys en sosaties, het uit die saal gekom en die verkopers het gesukkel om voor te bly.

Net na 17:00 het die manne begin naderstaan vir hul groot koekversierkompetisie. Met die koeke op die tafels is daar met alle erns met die versiering begin.

Uit die gesprekke rondom die tafels kon mens agterkom die manne het alles van Google tot YouTube ingespan om wenke en idees te kry.

Wimpie van Niekerk durf die koekversierkompetisie met troffel in die hand aan. Foto: Gerda Bruinette

Daar was van ‘n biltongkoek tot ‘n Springbokkoek en selfs een met ‘n krieketveld en paaltjies.

Wimpie van Niekerk het die grootste kreatiwiteit aan die dag gelê. Hy het summier ‘n oorpak gaan aantrek en ‘n tafeltjie agter die groot tafels opgeslaan.

Was ook nie lank nie, toe verskyn ‘n reuse gereedskaptrommel op die tafel. Met troffel in die hand het Wimpie behendig die koek begin pleister.

Wimpie met sy wenkoek

“My ouma draai in haar graf om as sy sien ek versier ‘n koek met ‘n troffel,” het hy gelag. Hy het glo op YouTube gekyk hoe om blommetjies met ‘n versierspuit te maak. Sy navorsing het gewerk, want hy is as die wenner gekroon.

Die prys vir die beste tegnologiese koek het aan Attie Redpath gegaan. Hy het dit reggekry om te lyk asof lekkergoed vanuit ‘n pakkie op die koek val en dit alles in net 30 minute!

Attie Redpath met sy astro-koek

Komplimente aan ds. Juppie en Marida Steurer en hul span vir ‘n voortreflike en goed georganiseerde fees.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Gerda Bruinette

Gerda Bruinette, senior journalist and columnist at Vaalweekblad, writes with compassion and a keen sense of human nature. Always striving to find positive and feel-good stories. Email: gerda@mooivaal.co.za
Back to top button