Lindie vra na hondeaanval: ‘Moenie die hond en eienaars slegmaak nie’
Lindie is Woensdagnag per ambulans vanaf Sasolburg na die uitstekende opleidingshospitaal, Universitas in Bloemfontein oorgeplaas, waar sy gister (Donderdag 29 September) haar eerste operasie ondergaan het.
Me. Lindie van Rooyen, stigter en direkteur van PurrPaws for Life Animal Shelter in die Vaaldriehoek, het gistermiddag die eerste van verskeie teaterprosedsures in die Universitas-hospitaal in Bloemfontein ondergaan.
Volgens haar dogter, Chanel, is die massiewe wond aan haar linkerbeen slegs diep en deeglik skoongemaak. Sy sal Saterdag weer ‘n prosedure onder narkose ontvang. As alles goed gaan, sal daar vir die oomblik net drie operasies wees, waarna verdere behandeling bepaal sal kan word.
Lindie is Woensdagnag per ambulans vanaf Sasolburg na die uitstekende opleidingshospitaal, Universitas in Bloemfontein oorgeplaas, waar sy gister (Donderdag 29 September) na die plastiese snykunde-afdeling verskuif is.
Haar opname het gevolg nadat sy Woensdagmiddag omstreeks 14:00 deur ‘n groot hond gebyt is terwyl sy probeer het om die dier op versoek van sy eienaars van hul perseel af te verwyder. Lindie, wat reeds jare se ervaring as hondehanteerder het, het die dier glo reeds onder beheer gekry toe hy haar onverwags gestorm en aangeval het. Sy is aan die maag gebyt, wat ‘n minder ernstige wond is, maar haar linkerkuit is verskeur. Vaalweekblad het foto’s van die besering aan haar been in ons besit, maar dit is te ontstellend vir publikasie.
Volgens Chanel gaan dit onder die omstandighede goed met Lindie en sy sê haar ma ehet baie lof vir die behandeling wat sy van die hospitaal en personeel ontvang.
“Dit het intussen onder ons aandag gekom dat sommige mense op sosiale media die hond en sy eienaars geweldig kwalik neem vir die aanval. Ons wil asseblief vra dat hulle die eienaars, wat pensioenarisse is, nie moet slegsê nie. Hulle verdien dit nie. ‘n Mens kan nie ‘n hond se temperament beheer nie. Dit was ‘n ongeluk en dit het gebeur. Op dié stadium moet almal maar net vorentoe beweeg,” sê Chanel.
Tans is die versorging van die diere die hoofprioriteit vir Lindie, sê Chanel, wat die bestuur van die dierehawe tydelik by haar ma oorgeneem het.
Daar is tans sowat 150 diere op die perseel in Viljoensdrift, wat honde, katte, perde, varke, hoenders en ganse insluit. Enige skenkings van pakke dierekos en voer sal opreg waardeer word.
Voedselskenkings kan afgegee word by dié afsetpunt: * Total Wilcor by 264 Louis Trichardt-boulevard. Dit is die Total-vulstasie langs die Palms-winkelsentrum. Vra vir Eunette, wat die skenkings sal ontvang en sal boekhou daarvan.
Donasies vir dierekos kan ook direk inbetaal word by:
Leading Agri
Standard bank
Acc 242439896
Ref: Purpaws
Proof: 072 637 8627/ lenavntr@gmail.com


