Nadia geniet dit om toneel te speel
Nadia Kühn dink en droom groot en een van die dae is sy ook in 'n kortfilm te sien.
VANDERBIJLPARK. – Nadia Kühn (15) hou daarvan om nuwe dinge aan te pak.
Die graad 9-leerling van die Hoërskool Transvalia se nuwe avontuur skop in September af.
Sy is gekies om deel te wees van die volgende Speel Toneel-groep.
Speel Toneel hou elke paar maande landwye oudisies om nuwe talent te ontdek.

Kinders, tieners en volwassenes wat die oudisies slaag, word dan gekies om deel van ‘n vier maande mentorprogram te wees.
Die program word voltooi met die nuwe akteurs wat in ‘n kortfilm speel.
Nadia het amper nie vir die oudisies gegaan nie. Alhoewel sy van jongs af ‘n belangstelling in drama gehad het, wou sy kop uittrek.
Gelukkig het sy nie, want sy het die oudisie met vlieënde vaandels geslaag.
Die film sal na verwagting in Januarie of Februarie verfilm word en in Maart 2023 uitgesaai word.
Hierdie jaar blyk Nadia se jaar te wees om haar toneel talente af te rond.
Sy het sowat vier maande gelede by ‘n plaaslike dramaskool aangesluit en geniet elke oomblik daarvan.
Sy het ook goed gevaar by die kunstefees en is trots om deel van Transvalia se wen-koor te wees.
Nadia het in die laerskool aan verskeie sportsoorte deelgeneem, van hokkie en netbal tot by gewigstoot en hoogspring.
Ongelukkig het sy verlede jaar haar knie sleg seergemaak en is haar sportdae vir eers agter haar.
Sy sit egter nie stil nie en werp haar met hart en siel in haar dramaklasse en ander skoolbedrywighede.
Die eertydse hoofmeisie van die Laerskool Totius sê sy is ‘n mense-mens wat daarvan hou om ander te help.
Nadia is ook lief vir teken en het al haar hand aan pottebakkery gewaag.
Wanneer sy tyd kry geniet sy dit om te lees. “Met elke boek ontdek ek ‘n nuwe wêreld,” vertel sy.
Haar gunstelinge is fantasieverhale, nie net om te lees nie, maar ook om te kyk. Die Harry Potter en Twilight boeke en films tel onder haar gunstelinge.
Sy is haar pa, Jaco en ma Yolandie se enigste kind en hulle is duidelik baie trots op haar.
Jaco sê Nadia het van kleins af ‘n goeie verbeelding gehad en het altyd in haar eie wêreld geleef.
Ten spyte van al haar bedrywighede laat sy nie haar akademie agterweë bly nie.
Sy handhaaf ‘n hoë standaard, want sy wil eendag in ‘n mediese rigting studeer.
Presies wat het sy nog nie vir haarself uitgeklaar nie, maar sy oorweeg enige iets van fisioterapie tot arbeidsterapie.
Dalk werk sy nog eendag met diere. “Ek is ‘n buitelugmens.
“Op ‘n stadium het ek twee perde gehad en ek het onder meer aan Cross Country en perdespringkompetisies deelgeneem. Jy weet, perde praat met jou siel,” verklaar sy ernstig.
Kleintyd het sy al van perde gehou. Haar ma sê Nadia wou net altyd perdefilms kyk.
“As ons destyds by die videowinkel ingestap het om DVDs uit te neem, het die vrou agter die toonbank gesê: “Jammer ons het nog nie nuwe perde ‘movies’ ingekry nie.”
Die Kühns is ‘n hegte gesin wat dit geniet om dinge saam te doen. Nadia sien baie uit na die Speel Toneel opleiding en die nuwe mense wat sy gaan ontmoet.
“Ek hou van uitdagings en ek gaan sommer baie nuwe dinge leer. Ek is regtig bly ek het deurgedruk en vir die oudisie gegaan,” vertel sy met oë wat skitter.
