Local newsNewsNews

Ek sê maar net…

RUBRIEK. - Oor Volkspele, verbrande jaffelpanne en 'n rugbyskeidsregter wat dink hy speel snap.

RUBRIEK. – Saterdag was ek sprakeloos. Dis nie iets wat baie gebeur nie. Dit alles oor ‘n skeidsregter. Die een wat die Springbokke teen die Pumas wedstryd beduiwel het.

So wat van ‘n passie vir geelkaarte het ek lanklaas gesien. Was hy besig om snap te speel? Is hy ‘n bonus gegee vir elke keer wat hy die kaarte uitgeruk het? G’n mens weet nie.

Hy kan bly wees die Springbokke het gewen, anders was hy beslis in Durban vir die haaie gevoer. Vergewe tog. Ek is nie altyd so moorddadig nie.

So van die Springbokke gepraat. Daar is twee advertensies wat tydens halftyd uitgesaai word, wat ek besonder baie geniet.

Die een is van ‘n selfoonnetwerk wat wys hoe alles vries omdat die sein verlore raak. Ek giggel elke keer vir Steven Kitshoff se benoude “not again” terwyl hy die lange Eben Etzebeth in die lug moet hou.

Die ander een is vir die een of ander hotelgroep. Dit wys die Springbokke besig met allerhande speletjies in die gange en eindig met Malcolm Marx en Bongi Mbonambi wat saam deur ‘n deur probeer pas.

Hul gesigsuitdrukkings is vir my te oulik. My Liewe Vriend sê ek is “gullible”, maar ek leef my elke keer in die storie in.

Naas die rugby was dit ook Erfenisdag die naweek, of soos almal dit ken, Nasionale Braaidag. Nee, ons het nie gebraai nie.

My Liewe Vriend het by die tradisionele gehou en vir ons lekker jaffels gemaak. Blykbaar is die regte Afrikaanse woord, boepensbrood, maar ek het met jaffel grootgeword en jaffel sal dit bly.

Self mag ek nie meer jaffels maak in ons huis nie. Ma het ‘n jaffelpan wat my ouma se buurvrou se man nog vir hulle gebring het vanuit Duitsland na die Tweede Wêreldoorlog.

Ons praat hier van 1945! Die pan doen nou al dekades diens. Getroue, goeie diens.

Totdat die uwe so paar maande gelede weer in alle haas en oorhaastigheid die gasvlam te hoog gehad het, die pan te warm gemaak het en siedaar … antieke jaffelpan pikswart verbrand.

Ma het my nog nie heeltemal vergewe nie, al lyk die pan nou al beter.

Liewe Vriend het meer geduld as ek. Elkeen van sy jaffels (ook gemaak op ‘n baie ou jaffelpan wat al jare saam met sy familie toer) is altyd perfek. Hoeke mooi afgesny, die brood stadig verbruin, die jaffel ordentlik gevul…

Ag ja, ons het nie almal dieselfde talente nie. Sit ek en ma Saterdag en beskou die Volkspele by AfriForum se Kiewiet Erfenisfees.

Die manne en dames van alle ouderdomme spring en draai en hou maat op Afrikaners is plesierig, Jan Pierrewiet en Sarie Marais. Ma het op hoërskool aan Volkspele deelgeneem en hul groep het kunswedstryde gewen.

“Dis moeilik om dit op gras te doen. Dis ongelyk,” kry sy die dansers jammer. “Ons het een keer op ‘n veld opgetree na ‘n perdevertoning. Ons moes so oor die perdemis dans,” onthou sy.

Ma het Volkspele baie geniet al het haar suster gespot en gesê sy doen “rock around die ossewa.” “Ek wou na skool aangaan met Volkspele, maar jou pa wou nie. Hy het altyd gesê sy liddoring sal dit nie toelaat nie,” is Ma steeds bietjie vies vir Pa wat geen ritme gehad het nie.

En toe erf ek Pa se ritme en dansvermoëns… Maar darem kon Ma op haar dag tiekiedraai.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Gerda Bruinette

Gerda Bruinette, senior journalist and columnist at Vaalweekblad, writes with compassion and a keen sense of human nature. Always striving to find positive and feel-good stories. Email: gerda@mooivaal.co.za
Back to top button