Dié perde paradys gee om vir die gemeenskap
Happy Hooves is 'n perde paradys wat omgee vir mens en dier, daarom loods hulle ook gereeld gemeenskapsprojekte
SASOLBURG. – Missy kom pronk-pronk nader en maak seker haar beste kant word afgeneem. Kom staan dan nader om gevryf te word.
Ruk haar so effe op toe sy sien sy gaan nie ‘n lekkerny kry vir al haar moeite nie. Ilse Araujo sê Missy behoort eintlik aan haar dogter, maar sy is net so lief vir die perd.

Missy is een van baie perde wat ‘n rustige bestaan voer op die plaas wat aan Fanie Stols behoort. Ilze sê wat vandag as Happy Hooves bekend staan, was eers die ou Sasolburg Ruiterklub.
“Nadat die klub ontbind is, het ons aangegaan,” vertel sy. Sy het ‘n groot liefde vir diere, maar haar grootste passie is die perde. Terwyl die perde blinkvet en gesond in die groot veld wei, word hul stalle geskrop en skoongemaak.
Op elke staldeur pronk ‘n naam. “Wanneer die perde in die middae teruggebring word stalle toe, hardloop elkeen na sy eie stal,” lag sy.

Onder Ilse se leiding is die hele terrein al omskep tot ‘n perde paradys. Daar is tot ‘n hindernisbaan vir die perde waar hul met groot geduld geleer word om nie bang te wees vir hoogtes, skielike afdraandes of goed wat dalk bokant hul hang nie.
Die perde en die personeel het ook ‘n liefde vir mense en Ilse probeer soveel as moontlik uitreik na die gemeenskap.
“Ons het al van die perde by ‘n ouetehuis gehad dat die bejaardes weer vir ‘n slag aan die perde kon vat. Dis baie terapeuties,” sê sy.
Sy onthou ook die keer wat hul ‘n plaaslike kinderhuis onthaal het met ponieritte en springkastele. “Die lekkerte is dat al die eienaars wie se perde hier op stal gehou word, oop harte en hande het. Hulle is altyd gewillig om te help wanneer ons ‘n gemeenskapsprojek aanpak.”

Op die stadium is almal, Missy inkluis, opgewonde omdat leerders van die Eurekaskool hulle 11 November gaan besoek.
“Ek is mos een van daardie, gaan groot of gaan huis toe tipes,” lag sy. “En vir Eurekaskool se leerlinge en personeel wil ek die dag ekstra-spesiaal maak.”
Sy het reeds borge vir van die kos en is hard besig om ekstra vermaak te reël.
“Enige besigheid of persoon wat dalk nog bydraes kan maak sodat ons die dag die kinders en personeel behoorlik kan bederf, kan my kontak. Die nommer is 068 230 7640.”
Vir meer inligting en foto’s besoek gerus hul Facebookblad, Happy Hooves Sasolburg.
