Bekende atleet van Vaal sterf
Samuel Tshabalala, die eeste swart man om die Comrades Ultramarathon te wen, is Sondag (2 Oktober 2022) oorlede.
SASOLBURG. – Die atleet van Zamdela by Sasolburg het volgens sy voormalige mentor en afrigter, Louis Harmse, glo gesukkel om asem te kry en het ‘n dokter gaan sien.
Hy is glo in die dokter se spreekkamer oorlede.
Tshabala het die Comrades Marathon van 1989 gewen nadat hy vir Willie Mtolo, wat daai jaar tweede gekom het, uitgestof het.
Dit was maar Tshabalala se tweede Comrades-wedloop.
Tshabalala het vir jare vir die Spectrum Atletiekklub in die Vaaldriehoek gehardloop en altesaam 13 Comrades-wedlope voltooi.
Hy het tussen 1987 en 2002 altesaam 12 silwer medlajes en een goue medalje ingepalm.
Volgens ‘n verklaring van die Comrades Marathon Vereniging was Tshabalala bekend vir sy nederigheid, vriendelikheid en sy vrygewigheid.
“Hy het ‘n hele generasie van Comades-atlete en toeskouers gemotiveer en vir mense gewys dat dit moontlik is om te droom en te wen,” lui ‘n uittreksel uit die verklaring.

