MIDVAAL. – Laerskool Midvaal is baie trots op hul senior hokkiespanne. Al vier spanne het deurgedring na die finale van die D7 Liga.
Die finale wedstryde is op 21 September op Hoërskool Dr Malan se gronde beslis. Die o.11 A en B-spanne het Laerskool Vryheidsmonument geklop.

Die o.13 B-span het hart en siel baklei, maar moes met die tweede plek in hul liga tevrede wees, nadat hulle 0-1 verloor het.
Midvaal se eerstespan het teen Laerskool Risiville geseëvier. Een van die afrigters, Christine du Toit het gesê hulle is baie trots op elke speler en afrigter.
“Die hele seisoen se harde werk is beloon. Om vier spanne in die finaal te gehad het was ‘n voorreg.”
Laerskool Midvaal het ook op hul Facebookblad die spanne gelukgewens: “Baie gluk aan elke leerder en afrigter, julle is ons trots. Dankie ook vir jul harde werk en toewyding.”
