Graf na 20 uur steeds nie toegegooi nie
Oop graf ontstel besoekers aan begraafplaas

Lesersbrief:
André Sadler van die Vaaldriehoek skryf:
Verlede Donderdagoggend so 09:00 se kant gaan ek en my swaer Sasolburg se begraafplaas toe. Ons gaan besoek ou vriende en familie wat nie meer met ons is nie.
So loop ons toe maar bietjie rond en sien daar lê ‘n vars hoop grond. Nou, eerste wat jy dink, is daar gaan iemand te ruste gelê word. So stap ons nader en kom op’ n baie skokende prentjie af: Daar lê die kis in die graf maar die graf is oop, met net so bietjie grond bo op. Ek skakel toe een van die plaaslike begrafnisondernemers in die dorp (wie se naam ek nie gaan noem nie). Ek moet sê, met die spoed van weerlig was hulle daar.
So word dit onder ons aandag gebring dat die persoon die vorige dag te ruste gelê is en dat hulle met die die plaaslike raad gereël het om die graf toe te gooi (wat nooit gebeur het nie, seker maar naby aan “huis toe gaan tyd”).
Daar is net daar-en-dan gereël dat daar dadelik aandag aan die saak gegee word. Die slotsom: As julle ‘n geliefde begrawe, gooi maar eerder self die graf toe. Ons doen dit mos al van ons voorouers se tyd af; dis hoe ons geleer is en hoe ons onse kinders leer.
Ek het foto’s van die oorlede se naam en van maar vir veiligheidsredes maak ek dit nie bekend nie want as dit een van my geliefdes se graf moes gewees het, sou ek al my speelgoed uit my kot gegooi het. So, maak maar seker as julle klaar is met ‘n begrafnisseremomie dat die graf toegegooi word. As my wiskunde reg is, was daai graf met kis en al vir meer as 20 uur oop gewees.

********************************************************************************************************************
