Hoera vir Eureka Revue!
Eurekaskool se revue het die hartsnare geroer en vir uitbundige pret gesorg vir al die deelnemers.
VEREENIGING. – Eurekaskool se revue was ‘n wenner. Met, A New Journey as tema, het die leerlinge vanuit die staanspoor die gehoor se harte gesteel. Twee vertonings is aangebied – op 21 en 22 September.
Die saal van die Laerskool Handhawer was gepak en op die verhoog het gekleurde sterre vanuit die dak gehang.
Die opgewondenheid was voelbaar in die saal, en buite het die eerste twee groepies leerlinge met blink oë hul beurt afgewag.
Eerste op die program was ‘n ballet nommer deur twee dansers pragtig in pienk getooi. Die een in ‘n rolstoel. Hulle het die gehoor aan hul voete gehad.
Dis opgevolg deur ‘n vrolike nommertjie waaraan die leerlinge in rolstoele deelgeneem het. Met twee “polisieoffisiere” wat regstaan om wetsoortreders vas te trek het die rolstoele een-een verbygekom.
Aan elke rolstoel is ‘n groot karton vasgemaak wat hul “oortreding” aangekondig het, van lisensies wat verval het tot dronkbestuur. Die gejuig van die gehoor was oorverdowend.

Dit is opgevolg met ‘n hele span “cowboys” wat vrolik gedans en gesing het. Daarna het die nommers vinnig op mekaar gevolg, met die onderwysers en helpers wat blitsvinnig elke keer die dekor verander het.
Die leerlinge, van die jonge graad R-klas tot by die graad 5’s wat volgende jaar die grootmenswêreld betree, het hul almal in hul nommers ingeleef.
Daar was gumboot-dansers, ‘n “boksgeveg” en Rock-sterre. Soveel energie is lanklaas op ‘n verhoog waargeneem.

Elkeen het hul beste gegee en so hier en daar is een met moeite van die verhoog afgekry, omdat daar eers ‘n laaste paar buigings gedoen is en gewaai is.
Die groep leerders met outisme het ook hul verskyning op die verhoog gemaak, die eerste keer as superhelde en daarna het hulle met ‘n vrolike nommer afgesluit waar hul handig gekleurde sambrele gedraai het.
Vir kinders op die outistiese spektrum is enige afwyking van hul daaglikse roetine ‘n groot uitdaging en kan die lawaai van ‘n gehoor te veel wees.

Tog het elkeen dapper hul deel gedoen en kan mens net jou hoed afhaal vir die personeel wat elke kind deurentyd met soveel liefde en respek hanteer het.

Rika Dippenaar en haar span verdien ook ‘n pluimpie. Sy het die hele program saamgestel en seker gemaak dat elke leerling ‘n rol in die produksie het.
Ure se oefening en maande se beplanning het vrugte afgewerp en die gehoor is met traangevulde oë en dankbare harte huis toe.

