Rand Water pas ‘beurtwater’ toe te midde van erge hittefgolf
Terwyl inwoners van Gauteng gebuk gaan onder snikhete temperature het Rand Water besluit om krane toe te draai om inwoners te dwing om water te bespaar.

Rand Water het Dinsdag aangekondig dat Fase 2-waterbeperkings met onmiddelike effek ingestel word.
“Rand Water het gemerk dat waterverbruik oor die laaste twee weke aansienlik gestyg het terwyl die totale watervoorraad in reservoirs van 52% na 38% gedaal het. Dit het Rand Water genoodsaak om onmiddelik Fase 2 beperkings in te stel,” lui ‘n uittreksel uit ‘n verklaring wat Rand Water Dinsdagmiddag (4 Oktober 2022) – een van die warmste dae tot dusver in 2022 – aangekondig het.
Volgens Mahlomola Mehlo, hoof uitvoerende beampte van Rand Water, word die beperkings ingestel om die stoorkapasiteit van Rand Water se reservoirs na 60% te herstel.
Die Fase 2-waterbeperkings geld vir al 5 Rand Water se stelsels, insluitend Eikenhof, Palmiet, Mapleton, Zwartkopjes en Vereeniging/Vanderbijlpark/Sasolburg.
Volgens Mehlo sal watervlakke elke twee weke gemonitor word en die beperkings aangepas word, indien nodig.
Rand Water het weer eens ‘n beroep op inwoners gedoen om water spaarsamig te gebruik.

