Haar liefde vir diere wys sy het ‘n warm hart gehad
"‘n Era is vir ewig verby, maar hierdie statige vrou het waarde toegevoeg tot die lewens van baie."
Kallie du Plessis van Vanderbijlpark skryf:
Die afsterwe van Koningin Elizabeth het vir my, soos vir die res van die wêreld, aangegryp soos geen gebeurtenis die afgelope tyd nie. Sy was ‘n ware ikoon en haar liefde vir perde en honde het haar baie spesiaal vir my gemaak. Dit was vir my ‘n bewys dat haar hart op die regte plek sit.
Soos die tyd aangestap het en haar lewe ook maar gekenmerk was deur die talle krisisse op haar pad, kinders se skandes en skades en vele ander, het sy altyd met waardigheid bo dit alles uitgestyg. Ek glo soos sy met haar Corgi’s daar in die tuine van haar geliefde Windsor gestap het, het juis hulle haar aandag van die harde werklikheid van die lewe daarbuite afgelei, en op haar perd se rug kon sy vry en vredig voel.
Die lewe van prag en praal het nie die mensdom so aangetrek soos haar liefde vir haar diere nie. Watter wonderlike stories sou die Corgi’s nie vir ons kon vertel nie? Niks was vir hulle te luuks nie. Reise met stralers en bootvaarte met die Brittanica en ook op haar koninklike trein, hulle het die wêreld vol gerinkink. Mekaar in die gange van Kensington en Balmoral rondgejaag en die personeel van Buckingham mateloos geïrriteer.
Die heel laaste reis kon haar oorblywende twee Corgi’s nie meemaak nie, die reis na haar ewige tuiste. Soos sy en Prins Philip nou in die mooiste tuine van die Ewigheid rondwandel met ‘n paar Corgi’s by haar voete, glo ek sy sal soms by die Groot Hekke navraag doen of die laaste twee nog nie aangekom het nie. ‘n Era is vir ewig verby, maar hierdie statige vrou het waarde toegevoeg tot die lewens van baie.

********************************************************************************************************
