Historiese ou gebou maak plek vir kitskosrestaurant
Een van Vereeniging se mooiste ou Art Deco-geboue is 22 jaar gelede gesloop om plek te maak vir nuwe uitbreidings in die middestad
VEREENIGING IS VANJAAR 130 JAAR OUD. OM DIT TE HERDENK, KYK VAALWEEKBLAD VANJAAR TERUG NA IN ITERESSANTE GEBEURE UIT DIE STAD SE GESKIEDENIS…
Een van Vereeniging se mooiste ou geboue, die voormalige Stewarts & Lloyds-hoofkantoor op die hoek van Voorstrekkerstraat en Rhodeslaan, moes in die jaar 2000 gesloop word om plek te maak vir nuwe sakeontwikkelings in die middestad.
Die Stewarts & Lloyds-gebou is 1939 in die Art Deco-styl opgerig en was jare lank deur die onderneming as hoofkantoor gebruik. In later jare het dit as ekstra kantore vir die polisie gedien, en sommige het beweer dat dit snags daar gespook het…
Die gebou het mettertyd in onbruik verval maar omdat dit op so ‘n gesogte plek in die middestad gestaan het, wou ‘n ontwikkelaar die gebou laat sloop en ‘n nuwe sakesentrum, insluitend ‘n McDonald’s deurry-restaurant, daar vestig.Omdat die gebou soveel historiese waarde gehad het en ouer as 60 jaar was, moes toestemming eers by die Suid-Afrikaanse Monumenteraad verkry word om dit te mag sloop. Goedkeuring is uiteindelik gegee en dit was die broers, mnre. Johan en Lucas du Preez van LDP Vervoer & Sloping, se taak om die gebou af te takel.
Die Du Preez’s het destyds aan Vaalweekblad verduidelik dat geboue in die Vaaldriehoek nie met behulp van plofstof gesloop mag word nie, daarom moes dit moeisaam met ‘n geboustamper gedoen word. Dié taak het sowat twee weke geduur en het ook nie aldag vlot verloop nie. ‘n Gedeelte van die gebou het in die proses op ‘n staalstruktuur van die naasliggende Botha en Deysel Motors geval, maar aangesien die moontlikheid van so ‘n gebeurlikheid vooraf in ag geneem is, was die motorsaak voorbereid. Niemand is in die voorval beseer nie en geen voertuie is in die proses beskadig nie.
Nadat die afgebreekte stukke stene weggery is, kon die terrein gelykgemaak en bouwerk aan die nuwe McDonald’s begin word. Hoewel die moderne era van kitskosrestaurante verwelkom is, het baie van Vereeniging se ouer garde tog ‘n knop in die keel gehad omdat een van die stad se bekendste bakens vir altyd verdwyn het en nou net op ou foto’s waardeer kan word.


*******************************************************************************
