Meyerton se rolbal legende – Tommie Louw
Maak kennis met ‘n lewende legende in Sedibeng en Meyerton se rolbalkringe, Tommie Louw. Hy is al 21 jaar president van die Meyerton Rolbalklub.
MEYERTON. – Meyerton Rolbalklub en Tommie Louw is sinoniem. Hy is vir die afgelope 21 jaar al die klub se president.
“Die klub is in 1986 deur my ouers gestig. Daardie jare het ek nog gholf gespeel,” vertel hy.
“Eers na my aftrede in 2001 het ek besluit om rolbal te probeer. Drie maande later is ek as klub president verkies.
“Hulle moes die klub se konstitusie verander, want daarvolgens moes iemand ‘n jaar lid wees om ‘n bestuurslid te kon word.”

Na al die jare geniet Tommie steeds rolbal. Sy vrou, Corrie speel ook, nie net vir die Meyerton Rolbalklub nie, maar ook vir Sedibeng en Gauteng Bowls.
Hy is ook ‘n lewenslange erelid van Meyerton en Sedibeng Rolbal. Tommie en Corrie maak ‘n gedugte span. Die twee sal in Oktober hul 55ste huweliksherdenking vier.
Hy lag lekker as ek na die storie vra. “Daardie jare het ons nog kerk jeug vereniging (KJV) gehad en ek moes Corrie se suster gaan oplaai om saam te neem na die een of ander kerk aksie. Wel, toe sien ek vir Corrie en vra wat maak jy vanaand? Kom saam,” lag hy.
Daarna was die koeël deur die kerk. Die Louws het twee seuns en vier kleinkinders. Die oudste woon saam met sy gesin in Mosselbaai en die jongste is in Meyerton.

Oupa is baie trots op sy drie kleindogters en kleinseun. “My kleinseun is ook Tommie,” glimlag hy breed.
Tommie is gebore en getoë in Meyerton. Hy was ‘n leerling aan die destydse Laerskool Dr. Verwoerd (vandag bekend as Laerskool Midvaal). Daarna het hy sy matriek aan die Hoër Tegniese Skool Vereeniging geslaag.
“Ek was 17 toe ek as bedryfsingenieursbeampte by die ou USCO begin het,” onthou hy. Oor die verloop van die volgende amper 40 jaar het hy homself opgewerk tot afdelingsbestuurder van die smeltery.
“Ek was deel van die hele transformasie van USCO na Yskor en later Mittal,” vertel hy. Op 35 het hy besluit om in te skryf vir die graad B.A. Bedryfsielkunde aan die destydse PU vir CHO.
“Dit was nog voor die dae wat die Vaal Kampus gebou is. Ons het daar by die ou Yskor geboue klasgedraf.”

Die deeltyds swot en voltyds werk op 35 was nie vir hom maklik nie. “Ek het die hele tyd gesê, die eerste vak wat ek dop, skop ek op,” onthou hy met ‘n vonkel in die oog. “Gelukkig het ek nooit ‘n vak gedop nie.”
Deur sy werk het hy ‘n paar keer die geleentheid gehad om die buiteland te besoek. In 1996 kon Corrie vir die eerste keer saamgaan.
In 2000 het die Louws die voorreg gehad om die Passiespele in Oberammergau in Duitsland te gaan kyk. Daarna het hul ook deur agt ander Europese lande getoer.
Dan het Tommie ook al ‘n slag gaan hengel in Ponta do Ouro in Mosambiek en kon ook op ‘n jagekspedisie in Namibië gaan.
Naas sy passie vir rolbal en die Meyerton Rolbalklub wat soos sy tweede huis voel, is Tommie ook aktief betrokke by die NG Gemeente Meyerton-Oos waar hy gemeentebestuurder is.
“Die kinders weet al as hulle bel en vra waar is ek, dat die antwoord of kerk of rolbal sal wees,” lag hy lekker.
Mense wat belangstel om saam te kom rolbal speel, kan vir Tommie by 082 899 5095 kontak. Hy maak self die beginners touwys, want op die oomblik is hy die enigste geregistreerde rolbal afrigter in die Sedibeng Distrik.
