“Wrong Turn-voertuig” se enjin slaan aan die brand
VANDERBIJLPARK. - Len Potgieter is 'n talentvolle man wat baie trots is op sy self opgeboude "Wrong Turn-voertuig". Hy moes egter in skok toekyk hoe sy voertuig se enjin voor sy oë aan die brand slaan kort nadat die voertuig gediens was.
Hy het die voertuig reeds meer as 10 jaar gehad voordat hy besluit het om dit in “The Wrong Turn-voertuig” te omskep.
“Dit het my so amper ses jaar gevat om die bakkie so op te bou (enjin uitgesluit). Ek het dit spesifiek gedoen om my besigheid daarmee te adverteer,” vertel Len, eienaar van Len’s Creations, custom wood & steelworks. Hy het ook die bakkie uitverhuur vir foto-sessies ens.
Intussen het die Wrong Turn-bakkie ‘n bekende gesig in die area geword.
“Ek het die bakkie op 1 Maart 2022 ingestuur vir ‘n “conversion engine” nadat die bakkie vir amper ‘n jaar gestaan het weens enjin probleme,” vertel Len.
Hy het ‘n “sponsor” gesoek om hom te help met die koste vir die enjin en een gevind. Hy het die voeruig toe ingevat en vier maande later op 22 Julie 2022, het hy die voertuig terug gekry na die herbou van die enjin.

“Ek was so opgewonde toe ek hom terug kry. Ek het my sponsor eerste gaan wys en van daar af het ek ook vir ‘n paar ander kliente gaan wys. Ek het ook my dogter verras deur haar by die naskoolsentrum te gaan haal met die bakkie,” vertel Len.
Dit was omstreeks 2 ure nadat hy die voertuig terug gekry het, dat die enjin aan die brand geraak het.
Niemand is in die voorval beseer nie, maar Len se dogter was wel paniekerig en het baie gehuil. Die vlamme het glo in die ry aan haar kant van die voertuig uitgeslaan.
Die enjin en voorkant van die voertuig het heeltemal uitgebrand voordat die vlamme geblus kon word
“My bakkie is ingesleep na Dumisa Autobody. Die mense help op die oomblik waar hulle kan, maar ongelukkig vat dit ook maar tyd en geld wat ek nie nou het nie,” sê Len.
“Die persoon wat aan die bakkie gewerk het, het nie eers die moeite gedoen om te kom kyk wat gebeur het nie en dit nadat ek hom persoonlik laat weet het. Ek het ‘n saak teen hom gemaak, hy moet verantwoording doen vir sy werk,” sê Len.
“Ek wil die publiek waarsku om te vra vir verwysings en ander bronne te raadpleeg voordat jy jou motor by wie ookal laat diens. Maak ook seker dat jy al jou papierwerk en betaalstrokies kry,” sluit Len af.