Brand by Becquerel Court moontlik deur inwoner begin
VANDERBIJLPARK. - Verslae inwoners van Becquerel Court in CW2 kon net toekyk hoe hul wonings afbrand nadat een van die inwoners van die woonstelblok glo vroeër die middag die brand gestig het. Die Emfuleni Brandweer was wel later op die toneel, maar kon die vuur nie blus voordat die meeste inwoners se besittings in die brand verwoes is nie.
Inwoners van die woonstelblok het aan Vaalweekblad vertel hoe een van die inwoners (glo ‘n blonde vrou) reeds die vorige dag ‘n vuur in haar woonstelkamer begin het. Hulle het dit toe betyds gesien en die papiere wat sy aan die brand gesteek het glo self geblus.
“Dit was of haar kop haar gelos het. Sy het wild tekere gegaan en geskree dat sy al die h*#@e in die woonstelblok sal doodmaak,” het ‘n inwoner vertel. Die vrou wat met Vaalweekblad gepraat het en haar kinders bly regs langs die woonstel waar die brand begin het. Hulle het nou niks nie, alles is in die brand vernietig.
‘n Amptelike ondersoek sal vasstel of dit inderdaad die geval was, maar die inwoners is oortuig dit was “daai blonde vrou” wat die vuur begin het.
Dit was glo haar woonstel op die boonste vloer waar die brand vanmiddag begin het.
Die vuur het daarna na al die ander woonstelle versprei. Van die inwoners op die grondvloer kon betyds daarin slaag om van hul besittings na buite te dra.
Nie al die inwoners was tuis toe die vuur ontstaan het nie, en om sake te vererger was daar ook honde in van die woonstelle vasgekeer.
Die beamptes van die plaaslike Diere Beskermings Vereniging het gelukkig ingetree en die diere gered. Die diere sal gratis vir die volgende week by die Vereeniging DBV-tak versorg word.
Waar die arme inwoners vanaand gaan slaap is egter ‘n duister saak.






