Local newsNewsNews

Man sonder inkomste na fratsongeluk

Hy is tot so 'n mate beseer dat hy nie meer kan werk nie. Hy ontvang tans nie 'n salaris nie en kry ook nie 'n SASSA-toelaag, kompensasie of werkloosheidsversekering nie.

Waarskuwing: Die storie bevat grafiese foto’s wat ontstellend vir sensitiewe lesers mag wees.

VEREENIGING. – ‘n Inwoner van Duncanville se lewe het in ‘n oogwink in ‘n nagmerrie verander nadat hy tydens ‘n ongeluk by ‘n myn deur ‘n soliede stuk staal met ‘n gewig van 150 kilogram in die gesig getref is.

Barend Harmse (47) het nie alleenlik by die dood omgedraai nie, maar sy beserings het ook tot gevolg dat hy ongeskik vir werk verklaar is.

Buiten die feit dat hy sy inkomste verloor het, ontvang hy tans geen korttermynverligting van die werkloosheidsversekeringsfonds (WVF), ‘n maatskaplike toelaag (Sassa-toelaag) of enige vorm van werkmanskompensasie nie.

Barend Harmse verduidelik met trane in sy oë oor die situasie waarin hy hom bevind. Hy is medies ongeskik verklaar en kan nie meer werk nie. Hy kry nie werkloosheidsversekering of enige vorm van inkomste nie. Foto: Christiaan Cloete

Barend, ‘n ketelmaker, sweiser, passer en draaier van beroep het as toesighouer by ‘n breekmasjien (crusher) op Kumba Iron Ore se Kolomela-myn in Postmasburg in die Noord-Kaap gewerk toe die ongeluk gebeur het.

Die ongeluk het volgens Barend die oggend van 12 April omstreeks 06:50 gebeur toe hy op nagskof gewerk het.

“Ek was in ‘n breekmasjien besig om bakwerkvoerings (body liners) te vervang.

“Daar was ‘n misverstand tussen die mense bokant die breekmasjien en die hyskraan-operateur.

“Die bakwerk-voering is losgebeitel terwyl ek nog binne die breekmasjien was.

“‘n Stuk soliede staal van 150 kilogram het soos skrapnel weggeskiet en my in die gesig getref,” vertel Barend.

Die besering wat Barend Harmse opgedoen het toe hy deur ‘n 150kg stuk soliede staal deur die gesig geslaan is. Foto: Christiaan Cloete

Barend vertel hoe hy, nadat hy deur die stuk staal in die gesig getref is, boonop by ‘n put van 9 meter diep afgeval het.

Dit het ure geneem om sy liggaam uit die put te haal en hom per helikopter na ‘n hospitaal in Bloemfontein te vlieg.

Dat hy die voorval enigsins oorleef het, is volgens hom ‘n wonderwerk.

“Ek was vyf keer dood. My hart het verskeie kere gaan staan, my longe het ophou funksioneer en hulle moes my herhaaldelik terugbring,” verduidelik hy.

Barend vertel dat hy in ‘n stadium aan ‘n masjien gekoppel was om hom te help om asem te haal.

Hy was vir drie dae in die kritieke sorgeenheid van ‘n hospitaal in Bloemfontein voordat hulle op hom kon opereer.

Barend vertel dat hy ‘n traumatiese breinbesering opgedoen het en dat hy verskeie skedelbreuke tydens die ongeluk opgedoen het. Hy moes ‘n nekoperasie ondergaan waartydens twee nekskywe vervang moes word.

Hy moes ook rekonstruktiewe chirurgie aan sy gesig ondergaan en het vir sowat ‘n maand rehabilitasie by ‘n hospitaal ondergaan.

‘n Mediese verslag wat deur die department van arbied uitgereik is toon dat die voorval Barend “permanent medies ongeskik” gelaat het. Barend sê weens die skade aan sy nek en senuwees het hy gevoel in die onderste gedeelte van sy liggaam verloor.

Barend het verskeie skedelbreuke in die ongeluk opgedoen. Foto: Verskaf

Hy het ook nie volle beheer oor sy regterarm nie. Barend se kinders bly tans by sy vrou, wat na hulle omsien.

Barend sê hy leef op die oomblik van die hand na die mond en moes talle van sy besittings verkoop om aan die lewe te bly.

Dit sluit ‘n slaapkamerstel, yskas en vrieskas, sitkamerstel, klankstelsel en ander toebehore in.
Daar is volgens hom nie eers geld om vir die water of ligte te betaal nie en Barend bly gevolglik in ‘n huis wat permanent sonder krag is. Intussen hoop sy rekenings op.

Barend Harmse het verskeie skedelbreuke in die ongeluk opgedoen. Foto: Christiaan Cloete

Barend sê hy kry nie die werkloosheidsversekering, ‘n Sassa-toelaag of kompensasie nie, weens administratiewe rompslomp en uitstaande papierwerk wat sy werkgewer glo moet invul.

Natasha van Wyk, ‘n administratiewe bestuurder by SAMCAW Field Service, die maatskappy in wie se diens Barend was toe hy op die myn gewerk het, sê al die papierwerk is reeds afgehandel en by Barend se huis afgelewer.
Volgens haar het die maatskappy meer gedoen as wat wetlik van hulle vereis word.

SAMCAW het glo selfs aangebied om Barend na die departement van arbeid te neem sodat hy sy uitstaande dokumentasie kan inhandig.

Hy het glo geweier en verbaal aggressief geraak, sê sy.

Volgens Van Wyk is uitbetalings reeds in verband met Barend se mediese onkostes gemaak, maar daar kort glo verslae van die dokters wat hom behandel het om die omvang van sy ongeskiktheid te bepaal.

Sy sê ‘n deeglike ondersoek is deur Anglo American gedoen en so tragies as wat dit mag wees, was dit as gevolg van ‘n misverstand.

Volgens Van Wyk was daar geen nalatigheid van SAMCAW se kant af nie.

Vaalweekblad het op 27 September 2022 navrae aan Anglo American gerig oor die voorval waartydens Barend Harmse beseer is maar het tot op hede nog nie amptelike terugvoer oor die insident ontvang nie

Vaalweekblad sal die inligting publiseer sodra ons dit ontvang.

Die ongeluk het by Anglo American se Kolomela-myn in Postmasburg gebeur. Foto: Anglo American

 

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Christiaan Cloete

Christiaan is editor of Ster North and a reporter for Vaalweekblad. Email: christiaan@mooivaal.co.za
Back to top button