VANDERBIJLPARK – Die opwinding was wilder as die Wilde Weste tydens Laerskool Emfulenipark se jaarlikse Mnr. en Mej. Emmies-kompetisie, wat op 30 Oktober plaasgevind het.
Met cowboy-hoede, stewels, skitterende beligting en musiek wat die voete laat jeuk het, het die deelnemers uitgehaal en gewys, terwyl die geesdriftige gehoor hulle luidkeels aangemoedig het. Vanjaar se Wilde Weste-tema het vir ’n kleurryke skouspel gesorg, met deelnemers wat hul beste voetjie voorgesit het om die beoordelaars te beïndruk.
Anders as in vorige jare het deelnemers slegs in twee kategorieë, naamlik skooldrag en temadrag, meegeding. Die formele dragafdeling is weggelaat ’n verandering wat besonder goed gewerk het. Anré Oosthuizen en haar span het hulle uitstekend van hul taak gekwyt, terwyl die beoordelaars die moeilike taak gehad het om die wenners aan te wys.
In die junior meisiesafdeling is Milah de Villiers as wenner gekroon, met Mosa Mokhawane as eerste prinses en Caprivi du Plessis as tweede prinses. Moratuoa Mofokeng het die fotogeniese titel ontvang. Francois Jansen van Vuuren het met die junior seunstitel weggestap. Brody Woodroffe is as eerste prins en Junior Sprinkaan as tweede prins aangewys. Sprinkaan het die gehoor laat juig met sy Michael Jackson-maansprong.











Adriaan Huisman het die fotogeniese titel ontvang, en RJ van den Berg is as debutant aangewys.
By die senior meisies is Nelize Botha as wenner gekroon, met Anabelle Lodetti as eerste prinses en Kaylee van Tonder as tweede prinses.
Olivia Strydom is as die fotogeniese wenner aangewys, en Mieke Naudé het die debutanttoekenning ontvang. Gregory Gilliland het die senior seunstitel ingepalm, met Logan du Plessis as eerste prins en Reuben Nolte as tweede prins. Keegan Ebersohn het die fotogeniese titel ontvang.
