Bietjie-bietjie maak baie – fondse vir Basjan
Sebastiaan Kock, of Basjan soos hy bekend staan, benodig dringend 'n operasie. Verskeie fondsinsamelingsprojekte is van stapel gestuur.
VANDERBIJLPARK. – Die fondsinsamelingsprojekte om Sebastiaan Kock (21) te help om vir sy mediese onkostes te betaal, is in volle swang.
Nicoleen Harmse van Ubee4Me sê hulle het die afgelope tyd al sowat R15 000 ingesamel. Daar word R250 000 benodig ten einde Sebastiaan se kolostomie om te keer.
Hy het die kolostomiesakkie gekry nadat hy verlede jaar baie ernstig in ‘n motorongeluk beseer is.
Die aktiewe NWU-student, hokkiespeler en afrigter het ‘n traumatiese tyd in ‘n plaaslike staatshospitaal beleef.

Vaalweekblad het onlangs berig dat die hospitaal vergeet het om die teater vir die operasie te bespreek.
Daar word nou gepoog om genoeg fondse in te samel sodat die operasie in ‘n privaathospitaal gedoen kan word.
Geld word ook vir nasorg benodig, want Sebastiaan, of Basjan soos hy algemeen bekend is, sal onder meer ten minste vyf dae in die Intensiewe Sorgeenheid wees.
As deel van die fondsinsamelingsprojekte kan mense lootjies koop teen R50 per kaartjie. In die eerste loting is ‘n kruiwa gelaai met alles, van braaigoed tot drinkgoed, ter waarde van R3 000 op die spel.

Die tweede loting se prys bestaan uit ‘n spesiale “Goodie Bag” vir vroue wat ‘n magdom verrassings van skoonheidsprodukte tot by afslagkoepons insluit, ook met ‘n waarde van R3 000. Die trekking vind 31 Oktober plaas.
Die spesiale Basjan-houers is by verskeie instansies soos Transvalia Kafeteria, Nashua, Vanderbijlpark Rolbalklub, Offenbachs, Meyerton Rolbalklub, Henley-on-Klip Rolbalklub, El Toro slaghuis, Old Vaaltonians, 4×4 Megaworld en Alinca Accounting Services geplaas vir daardie ekstra kleingeld wat jou beursie swaar maak.

Nicoleen sê die idee is dat skole en besighede mekaar onderling sal uitdaag om te kyk wie die meeste houers die gouste kan vol maak.
Moet ook nie die Donkey Derby mis wat 29 Oktober plaasvind nie. Hierdie beloof om ‘n spesiale aand vol hope pret en baie lag te wees.
Daar gaan onder meer op houtperde gewed en speletjies gespeel word. Die pret skop af om 18:00 vir 18:30 en word by Curroskool Vanderbijlpark aangebied.
Kaartjies kos R100 per persoon. Daar is slegs 150 kaartjies beskikbaar, so maak seker om betyds te bespreek.

Vir meer inligting, volg gerus die Facebookblad Basjan’s Colostomy Reversal of kontak Nicoleen by 084 598 1722 of Marita Peters by 082 957 9622.
Enige donasies is welkom.
Die bankbesonderhede is:
Rekeningnaam: U Bee4 Me Npc. Bank: Nedbank. Rekeningnommer: 1234826054.

