Meester-restoureerder van outydse BMW voertuie open werkswinkel in Vereeniging
Hy word as een van die land se beste restoureerders van ou BMW's beskou.
VEREENIGING. – Een van Suid-Afrika se voorste restoureerders van ou BMW voertuie en sy span se dienste is nou aan die publiek beskikbaar, nadat hy pas ‘n splinternuwe motorwerktuigkundige werkswinkel en restourasiesentrum in Duncanville geopen het.
Custom Servicing and Restorations het Sondag, 2 Oktober hul amptelike opening in Vereeniging gehou.
Luis Malhou (49) en sy span doen al vir jare restourasie van ou BMW voertuie, maar diens vanuit hul nuwe werkswinkel nou ook BMW voertuie, oud of nuut.
Vir Luis, plaaslike sakeman en ‘n passievolle restoureerder van BMW voertuie, is dit ‘n droom wat bewaarheid word.
Luis het van kleins as ‘n passie vir BMW voertuie gehad. Luis vertel sy pa het in die laat 1970’s vir BMW gewerk.
“Ek was nog 6 of 7 gewees. As my pa gewerk het, het ek dikwels in die werkswinkel rondgeloop, en dit is hoe ek die karre leer ken het,” vertel Luis.
Die gesin het ook ‘n BMW as ‘n familiemotor gehad.
Luis restoureer al vir talle jare ou BMW voertuie.
Dit het begin met nadat Luis se pa die familie se motor in 2004 verkoop het.
In 2007 het hy die voertuig gesoek, dit teruggekoop en begin om die voertuig te restoureer.
Die restourasie-gogga het vir Luis gebyt en hy het in sy vrye tyd voertuie begin restoureer.
In 2014 het Luis, wat in daardie stadium ‘n Nando’s-restaurant in Drie Riviere besit het, besluit om die kosbedryf te los en hom voltyds op sy stokperdjie toe te spits.
Hy het ook deur ‘n egskeiding gegaan en dit was vir hom ‘n vorm van terapie.

Oor ‘n tydperk van ‘n paar jaar en danksy sosiale media, het Luis homself as een van die land se voorste restourasie-kenners gevestig.
Luis se restourasiewerk was van so ‘n gehalte dat BMW hom later genader het om ‘n 1976 BMW MLE 530 model vir hulle te restoureer.
Werk aan die voertuig is in 2019 voltooi en die voertuig word tans by BMW se erfenismuseum in Midrand uitgestal.
Die spesifieke voertuig word as ‘n ikoon van Suid-Afrikaanse motorsport in die 1970’s beskou.
Die voertuie is met die hand by BMW se fabriek in Rosslyn in Pretoria vervaardig.
Die karre is spesiaal vir wedrenne op Suid-Afrikaanse renbane gebou en baie plaaslike wedrenne is tussen die jare 1977 en 1979 met hierdie voertuie gewen.
Vir die voertuig om aan motorsport te kon deelneem, moes daar as voorvereiste ten minste 100 produksiemodelle van die voertuie vervaardig word en kommersieel op die mark beskikbaar wees.
Jy sou die kar die Sondag op die renbaan sien en Maandag by ‘n BMW motorhandelaar kon instap en ‘n replika van die voertuig kon koop.
Daar is glo net 110 produksiemodelle gebou, waarvan daar vandag slegs sewe in die wêreld oor is.
Die voertuig is vandag baie gesog onder motorhandelaars vanweë die geskiedenis en die skaarsheid daarvan.
Luis meen dit was ‘n voorreg om deel van die projek te kon wees.



