Local newsNewsNews

Ek sê maar net…

RUBRIEK. - Is dit net my hond wat elke tweede dag 'n ander geit uitdink? Kleinsus Antjie het kort-kort 'n nuwe gier en ek doen gedwee mee ... want dis Kleinsus Antjie.

RUBRIEK. – Saam met die beurtkrag wat ons beleef, het Kleinsus Antjie ook ‘n nuwe roetine uitgedink.

In die aande as sy die nodige draai buite wil gaan loop, moet ek saamgaan. Gelukkig hou sy naby aan die agterdeur.

Dis nou vandat sy een aand tydens beurtkrag tot by die deur gekom het en summier wou terugdraai oor die groot donkerte buite.

Begewe ek my saam met haar na buite en sit die flitslig aan dat sy ‘n ligkol kan hê, vir haar met permissie soos Mietie in vanmelewe se Koöperasiestories gesê het.

As sy klaar haar plassie gemaak het, steek sy ook net daar vas en swaai haar alie na my kant toe. Juffie kan self uitloop, maar in die aande moet ek haar terug dra.

Kleinsus Antjie het onlangs vier geword, maar ek noem haar steeds Babatjie. Een agterbeen is mos van geboorte af nie heeltemal in werking nie.

Nie dat dit haar pla nie, sy regeer die huis. Blaf nie sommer nie, maar het ‘n Antjie-taal waarop jy blitsig moet reageer want haar humeurtjie vat vinnig vlam. Aard seker na my.

Op die oomblik is sy bietjie aan die vuil kant. Is weer tyd vir haar om by die salon te draai, maar dit gebeur eers middel Oktober. Tot dan mag mens nie met ‘n skêr of borsel naby haar kom nie. Sy laat dit nie toe nie.

Sy kan haar goed wip. Nou die aand was sy juis so vies vir ons. Sy eet nog aandete, toe verdwyn ons net. Saam met Baba Bessie.

Kleinsus Antjie en Baba Bessie. ‘n Besige duo.

Baba Bessie is Antjie se ouer halfsus. Die twee het dieselfde ma, maar verskillende pa’s. Bessie is ook meer as dubbeld Antjie se grootte. Die twee is erg oor mekaar, maar kan ook vreeslik aan’t strye raak.

Vrydagmiddag kom ons laatmiddag by die huis. Was einde van die maand, ons moes noodwendig ‘n paar plekke besoek.

Ek het net vir Antjie en Heidi hul kos in die sitkamer neergesit, toe roep Ma uit die kombuis dat daar fout is met Bessie se poot.

Ek haas daarheen. Bessie se een toon is bloederig. Ordentlik kyk kan ek ook nie, want sy wil nie stilsit nie. Dus moes ons haar veearts toe vat.

Ek het agter uitgesluip met Bessie in die arms met haar poot wat bloedkolle oral op my hemp drup. Blyk toe nie te ernstig te wees nie.

‘n Onskadelike sist wat gebars het. Geen steke is nodig nie, maar sy’t wel ‘n inspuiting en antibiotika gekry. Die hele proses het nogal lank geduur en dit was al goed donker voordat ons weer by die huis gestop het.

Bessie was dankbaar toe Ma die buiteligte agter aanskakel en sy besef sy’s by die huis. Dit was die eerste keer in haar sewe jaar wat sy ‘n rit in die aand beleef het en sy was nie mal daaroor nie.

Dit was met die intrapslag wat ek gesien het Kleinsus Antjie is nie gelukkig met my nie. Gaan lê sommer met haar rug na my toe, skop my hand weg toe ek haar wou vryf, en dan praat ons nie eens oor die kyke wat ek gekry het nie.

Gelukkig hou haar buie nie lank nie. Teen die tyd wat sy wou uit, het sy genoeg vergifnis in haar hart gehad om my, haar grootste onderdaan, toe te laat om haar weer die huis in te dra.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Gerda Bruinette

Gerda Bruinette, senior journalist and columnist at Vaalweekblad, writes with compassion and a keen sense of human nature. Always striving to find positive and feel-good stories. Email: gerda@mooivaal.co.za
Check Also
Close
Back to top button