Local newsNewsNews

Misdaadsituasie in SA “touch” hom op sy “studio”

Vierkleurvlae het Saterdagmiddag (8 Oktober 2022) in Vereeniging se middestad gewapper toe lede van die Geloftevolk Republikeine en hul leier, André Visagie, vanaf Duncanville na Vereeniging se polisiestasie gestap het om ‘n griefskrif aan die polisie te oorhandig.

VEREENIGING. – Volgens Visagie teken die boervolk met dié optog protes aan teen stygende misdaadvlakke in Suid-Afrika en die politiese wil wat skynbaar ontbreek om misdaad daadwerklik te takel.

Lede van die regse organisasie het Saterdag in kamoefleerdrag deur Vereeniging se strate gestap met plakkate wat sê: “SAPD kan nie plaasmoorde keer nie!!”, “Korrupsie is besig om ons land dood te maak”en “Stop plaasmoorde!”

Joe Smit, ‘n lid van die Geloftevolk Republikeine in die Vaaldriehoek, marsjeer in kamoefleerdrag deur Vereeniging se middestad. Foto: Christiaan Cloete

Volgens ‘n griefskrif wat later deur Visagie by die polisiestasie aan die polisie oorhandig is, het die misdaadsituasie ondraaglik geraak en tree die polisie in meeste gevalle bloot reaktief op, terwyl daar geen proaktiewe benadering tot die bekamping van misdaad is nie.

“Met meer as 70 moorde wat daagliks in Suid-Afrika plaasvind en korrupsie wat ‘n aanvaarbare stokperdjie in al drie sektore van regering geraak het is dit onnodig om meer te sê.

“Dit situasie kan nie voortgaan sonder dat daar (in een of ander stadium) ‘n reaksie van wetsgehoorsame burgers sal wees nie,” lees ‘n uittreksel uit die sterk bewoorde verklaring.

“Die feit dat daar meer as sestig duisend polisiereserviste, wat oor die afgelope 10 jaar aangestel is, die diens verlaat het, bewys dat die polisie nie geïnteresseerd is om te help nie.

“Ons, die burgery van Suid-Afrika, sal nie hierdie anargie en chaos duld nie! Soos ons tydens die onluste van Julie 2021 in KwaZulu/Natal ons voet neergesit het sal ons dit weer doen!!” waarsku Visagie, wat in 2016 tronk toe gestuur is vir die onwettige besit van vuurwapens en ammunisie.

Visagie, wat reeds sy vonnis uitgedien het en intussen vrygelaat is, hou vol die wapens is destyds geplant.

André Visasgie, leier van die Geloftevolk Republikeine, oorhandig die griefskrif aan kapt. Matsose van die Vereeniging-polisie. Foto: Christiaan Cloete

Volgens Visagie is het die staat ‘n verantwoordelikheid om inwoners te beskerm en Suid-Afrikaners se belastinggeld bemagtig die staat om hierdie funksie te verrig.

Hy meen die staat het in Suid-Afrika hierdie kontrak verbreek terwyl die burgery aanhou om belasting te betaal.

“Indien die staat nie onmiddellik begin om wet en orde te handhaaf nie sal die gebeure van Julie 2021 hulself herhaal en sal Suid-Afrikaners hul belastinggeld aanwend om self wet en orde te handhaaf,” waarsku Visagie in die griefskrif.

Die griefskrif is Saterdagmiddag kort voor 13:00 deur kapt. Matsose van die Vereeniging-polisie in ontvangs geneem.

Die Geloftevolk Republikeine stap vanaf Duncanville na Vereeniging se polisiestasie om ‘n griefskrif te oorhandig. Foto: Christiaan Cloete
André Visasgie, leier van die Geloftevolk Republikeine, meen misdaad is buite beheer in Suid-Afrika. Foto: Christiaan Cloete

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Christiaan Cloete

Christiaan is editor of Ster North and a reporter for Vaalweekblad. Email: christiaan@mooivaal.co.za
Back to top button