Geliefde radioman se stem nou stil
Bekende radio-amateur van die Vaaldriehoek oorlede.
VANDERBIJLPARK. – Vaaldriehoekse radio-amateurs moes onlangs hartseer afskeid neem van ‘n vriend en steunpilaar, mnr. Harry Marx (80), wat op 31 Augustus oorlede is.
Mnr. Marx is op 10 April 1942 in Randfontein as die jongste van nege kinders gebore. Na voltooiing van sy skoolloopbaan aan Hoërskool Jan Viljoen het hy sy vakleerlingskap as elektrisiën by Randfontein Estate deurloop. Hy het daarna vir nege jaar as elektrisiën by die Rustenburg-platinummyn en 22 jaar as tegnikus by die Elandsrand-goudmyn gewerk.
Deur die jare het hy ‘n groot belangstelling in amateurradio’s ontwikkel en sy lisensie in 1969 met die roepsein ZS6MH ontvang.
Na sy aftrede het hy en sy vrou, Anita, hulle in 2000 in Vanderbijlpark kom vestig, waar hy spoedig deel van die Vaaldriehoekse Amateur Radioklub geword en diep spore getrap het. Met sy jarelange ervaring was hy ‘n besondere aanwins vir die klub, sê mnr. Ben Fitchat, ‘n voormalige tesourier. Uit erkenning vir mnr. Marx se kundige bydraes en ondersteuning aan ander klublede is hy mettertyd tot lewenslange erelid verklaar.
‘n Woordvoerder van die Marx-familie sê hulle sal “Oupa Harry” onthou as iemand met streng waardes maar met ‘n sagte hart vir mense wat swaarkry.
“Hy was ‘n ou wat ‘n plan kon maak om ‘n ding te laat werk, en het graag stukkende goed reggemaak. Hy was ‘n baie private soort mens wat nie graag in die kollig wou wees nie.”
Wyle mnr. Marx word buiten sy vrou deur drie seuns, Harry, Jacques en Riaan, sy skoondogters en sewe kleinkinders oorleef.

***********************************************************************************

