Local newsNewsNews

Projek Tafelberg uitloop geboek vir 29 Oktober

Rozaan Steyn, 'n plaaslike MS-lyer se droom om Tafelberg uit te loop is goed op dreef

SASOLBURG. – Rozaan Steyn is op ‘n missie om eersdaags Tafelberg uit te loop. Sy, haar ouers, familie en vriende oefen al maande vir die groot okkasie. Die datum is vasgemaak vir 29 Oktober.

Elke naweek probeer hulle tussen 8 en 10 km loop en in die weeksdae sowat 2 km per dag. Rozaan het ook twee metgeselle wat saamloop.

Rozaan Steyn hou aan Saartjie vas as haar bene te moeg word. Foto: Verskaf

Die een is haar bekende stapstok, Freddie en die nuutste toevoeging is Saartjie. Dis ‘n loper met wieletjies en wanneer Rozaan se bene te moeg raak, het Saartjie selfs ‘n sitplek.

Rozaan ly aan veelvuldige sklerose (MS) en een van die redes waarom sy Tafelberg gaan uitloop is juis vir MS-bewusmaking. “Ek wil vir ander MS-lyers hoop gee. Ons kan steeds dinge doen.”

Hulle gaan rus-rus op loop, maar gaan met die kabelkarretjie af ry. “Ek het gesê hulle moet sorg dat ek ‘n pienk melkskommel kry voordat ek daardie kabelkarretjie aandurf,” lag sy. Sy sien amper eerder kans om maar weer af te loop!

Van die Steyns se familie in die Kaap gaan ook saam op loop en almal is baie opgewonde oor die groot kuier en avontuur.

Sy het in Junie gedink haar droom is aan skerwe toe sy ‘n onverwagse MS terugslag gekry het. “Drie weke later kon ek egter weer ‘n 4 km aflê. Ek is baie geseënd,” vertel sy dankbaar.

Oor wat vir Rozaan voorlê na Operasie Tafelberg, is sy nog nie seker nie. “Op hierdie stadium dink ek net aan die berg. Dit voel soos ‘n droom. Ek is seker dit gaan my eers behoorlik tref as ek die oggend daar staan.”

Tot dan oefen sy en medestappers getrou elke dag. In die week is hul al om 06:15 op die pad. Ons wens die groep alles van die beste toe tot dan.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Gerda Bruinette

Gerda Bruinette, senior journalist and columnist at Vaalweekblad, writes with compassion and a keen sense of human nature. Always striving to find positive and feel-good stories. Email: gerda@mooivaal.co.za
Back to top button